Resepte

Geroosterde stokvis met tamatie-lensies

(2 porsies)

Tamatie-lensies

  • 50 ml olyfolie
  • 200g klein rosa-tamaties
  • 1 knoffelhuisie, fyngedruk
  • 1 blik (400 g) lensies, gedreineer en afgespoel
  • 100 ml droë witwyn (sauvignon blanc)
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • handvol vars bronkors (watercress)

Verhit die olyfolie in ’n kastrol en gooi die tamaties by. Braai die tamaties tot hulle effens begin bars. Voeg die knoffel by en braai vir sowat 2 minute. Voeg die gedreineerde lensies en witwyn by. Geur met sout en swartpeper en kook oop vir sowat 8 minute totdat al die wyn geabsorbeer is. Roer die bronkors deur en sit dadelik voor saam met die geroosterde stokvis.

Geroosterde stokvis

  • 2 stokvisfilette
  • sowat 5 ml olyfolie
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • sap van ’n halwe suurlemoen

Verhit jou oond tot 200 °C. Plaas ’n stuk bakpapier op ’n bakplaat en rangskik die filette bo-op. Smeer hulle met die olyfolie en geur met sout, swartpeper en suurlemoensap. Plaas die bakplaat in die oond en rooster die vis vir 10 – 12 minute tot gaar. Sit voor bo-op die tamatie-lensies met nóg vars suurlemoen as garnering.