sk07vis01
Gebak

Heel gebakte vis

Aan vars vis, pas uit die see, moet jy so min as moontlik peuter. Braai dit liefs oor die kole met ’n paar geurmiddels in die maagholte gestop en ’n foelie-jassie omgevou, of op dié Mediterreense manier in die oond gebak. Vra die visverkoper om die vis te krap, skoon te maak en die vin weg te sny. Die kop en stert kan behoue bly of afgesny word, nes jy daarvan hou.

(4-6 porsies)

  • 1,6 – 2 kg heel vars vis, gekrap en skoongemaak
  • sout en swartpeper
  • 2 e (30 ml) olyfolie
  • 2 groot uie, geskil en in ringetjies gesny
  • 2 t (10 ml) fyn knoffel
  • ½ k (125 ml) droë witwyn
  • ½ k (125 ml) olyfolie
  • sap van 1 suurlemoen en die vleis daarna in blokke opgesny
  • 1 k (150 g) ontpitte olywe
  • 2 k (250 g) baba-tamaties, gehalveer of 3 baie ryp tamaties, ontpit en gekap
  • 2 e (30 ml) gekapte vars pietersielie
  • 1 e (15 ml) gekapte vars origanum
  • 2 t (10 ml) vars tiemieblaartjies
  • 6 lourierblare

Stap 1
Plaas die vis in ‘n oondvaste bak en geur met sout en peper binne en buite.

Stap 2
Verhit die 30 ml olyfolie oor matige hitte in ‘n pan en braai die uie vir 5 minute  tot net glaserig. Voeg die knoffel by en roerbraai vir nog ‘n minuut tot aromaties. Verwyder van die hitte.

Stap 3
Meng die witwyn, die 125 ml olyfolie, suurlemoensap en -vleis en giet oor die vis.

Stap 4
Pak die uie rondom en bo-op die vis. Strooi die olywe, tamaties, kruie en lourierblare oor en rondom die vis.

Stap 5
Geur weer met sout en peper. Marineer vir 30 minute tot 1 uur in die yskas.

Stap 6
Voorverhit die oond tot 200 °C en haal die vis uit die yskas om kamertemperatuur te bereik (vir sowat 15 minute).

Stap 7
Bak die vis vir 10 minute teen 200 °C en verlaag die hitte tot 180 °C. Bak die vis nog 35 minute of tot gaar. Skep halfpad deur die baktyd ‘n paar lepelsvol van die wyn en olie oor die vis.

Stap 8
Die vis is gaar as die vleis maklik vlok en jy dit met ‘n skerppuntmessie van die ruggraat kan wegtrek.

Stap 9
Sit die vis voor met gekookte babaaartappeltjies of rys en slaai en skep ‘n bietjie van die sous oor. Dis ook baie lekker teen kamertemperatuur. Vars broodrolletjies om in die sous te doop is ‘n ekstra stukkie bederf!

 

Wenk
As vars vis moeilik bekombaar is, kan jy die resep met bevrore vis maak. Ontdooi die vis en sny dit in 6 cm-blokkies.
Marineer en bak eers vir 10 minute teen 200 °C en dan hoogstens nog 20 minute teen 180 °C.