Foto deur Micky Hoyle

SARIE KOS APRIL/MEI 2013

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS APRIL/MEI 2013

Resepte

Lamsteak met kreef

In Amerika en Engeland noem hulle dit “surf and turf” wanneer ʼn vleisgereg, gewoonlik beessteak, saam met seekos voorgesit word. Ek gebruik lamsteak en kreef, met ʼn gebakte patat daarby vir ʼn eg Suid-Afrikaanse kleurtjie.
(genoeg vir 4)

  • 4 patats
  • 4 lamsteaks van sowat 160 g elk
  • sap van halwe suurlemoen
  • 30 ml worcestersous
  • 30 ml olyfolie
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 8 bevrore kreefsterte
  • 40 g bronkors (watercress)

Suurlemoen-knoffelbotter

  • 30 ml suurlemoensap
  • 200 g (220 ml) botter
  • 3 knoffelhuisies, fyngekap
  • hand vol pietersielie, fyngekap

Verhit oond tot 200 °C. Voer ’n bakplaat uit met tinfoelie. Was patats goed af en sny ’n kruisie bo-op elkeen. Plaas met kruisie na bo op bakplaat en dan in oond. As jy die skil van die patats lekker bros wil hê, sal dit sowat 1½ uur duur. Plaas intussen die lamsteaks in ’n vlak bak. Gooi suurlemoensap, worcestersous en olyfolie oor. Laat staan sowat 30 minute. Geur met sout en peper. Verhit ’n riffelpan tot lekker warm en plaas steaks in pan. Braai sowat 4 minute aan die een kant en draai om. Braai nog sowat 4 – 5 minute, na gelang van hoe gaar jy van steak hou. Om die kreef gaar te maak bring jy water in ’n groot kastrol tot kookpunt. Plaas kreefsterte in kookwater en kook sowat 15 minute. Haal versigtig uit en sit voor saam met steak, gebakte patat en vars bronkors.

Suurlemoen-knoffelbotter
Sit die suurlemoensap, botter en knoffel saam in ’n kastrol. Laat die botter oor lae hitte smelt en voeg dan die pietersielie by. Sit warm voor saam met lamsteak en kreef.