Foto deur Micky Hoyle
SARIE KOS Augustus/September 2014

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS Augustus/September 2014

Resepte

Mossels gekook in witwyn

In Parys se kunsdistrik Montmartre het ons heerlike mossels geëet. Jy kry ’n groot bak vol wat saam met brood voorgesit word. In SA is vars mossels nie so volop nie, en daarom het ek dit met bevrore halfskulp-mossels vervang. Dit werk ook baie goed.

Genoeg vir 6
• 1,2 kg bevrore halfskulp-mossels
• 45 g (50 ml) botter
• 1 ui, fyngekap
• ½ selderystingel, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 400 ml witwyn
• 1 lourierblaar
• 2 takkies vars tiemie
• 250 ml room
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 30 ml fyngekapte pietersielie

Laat mossels ontdooi voor jy begin. Smelt botter in ’n diep kastrol. Voeg ui, seldery en knoffel by. Roer goed. Verlaag hitte en maak kastrol toe met deksel. Braai tot groente sag is. Voeg witwyn, lourierblaar, tiemietakkies en ontdooide mossels by. Maak kastrol toe en laat kook tot mossels gaar is, sowat 10 minute. Skep mossels versigtig uit en gooi sous deur ’n sif. Gooi sous terug in kastrol en bring tot kookpunt. Laat kook sowat 2 minute en voeg room by. Geur met sout en peper. Kook net tot room warm is en voeg mossels by. Sprinkel pietersielie oor en sit warm voor met Franse brood.