Foto's deur Micky Hoyle

Foto's deur Micky Hoyle

Resepte

Moules Mariniere (Mossels met witwyn en room)

6 PORSIES

  • 30 ml botter
  • 1 salot, fyngekap
  • ½ selderystingel, in skyfies gesny
  • 400 ml chardonnay
  • 1 lourierblaar
  • 3 takkies vars tiemie, blaartjies verwyder
  • 2 kg toeskulp- swart mossels (vars of bevrore)
  • 250 ml room
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • sowat 30 ml fyngekapte pietersielie

Smelt botter in ’n diep kastrol. Voeg salot en seldery by en braai tot net sag. Voeg die chardonnay, lourierblaar en tiemieblaartjies by. Bring tot kookpunt. Voeg mossels by en laat kook vir 2 – 3 minute.
Verwyder mossels uit sous en gooi dié wat nie oopgegaan het nie weg. Gooi sous deur sif en gooi die oorblyfsels weg. Gooi sous terug in kastrol en voeg room by. Geur met sout en peper en bring tot net voor kookpunt. Die sous moenie kook nie. Voeg die gaar mossels terug by sous en sprinkel pietersielie
oor. Sit voor saam met ’n Franse brood.

Mossel-wenke:
As jy vars mossels gebruik, moet jy dit ’n hele paar keer afspoel. Skrop die mossels goed met ’n borsel
en trek die baard-gedeelte uit. Jy kan dit met ’n harde pluk verwyder of met ’n skerp messie afsny. Spoel
goed af, maar moenie dat die mossels in koue water lê nie, want dan kan hulle doodgaan. Bevrore mossels is reeds skoongemaak. Die belangrikste is om die mossels wat oop is voor jy dit kook weg te gooi, en so ook die mossels wat nie oopgaan tydens die kookproses nie.

Om te drink
Die Durbanville Hills Chardonnay 2010 het ’n sweempie vanielje en botterkaramel wat perfek pas by die
roombasis van die gereg.