Resepte

Pikante Mosambiekse krapsop

(4 porsies)

Speserypasta

  • 4 of 5 sterk brandrissies
  • varsgerasperde klapper uit een kokosneut
  • sowat 5 ml gemmer, geskil en gerasper
  • 2 lemmetjieblare
  • 2 Thai-blare
  • 3 knoffelhuisies, fyngekap
  • 30 ml palmolie
  • 15 ml vissous
  • 30 ml sojasous
  • 30 ml sesamolie
  • 15 ml suiker
  • sap van een lemmetjie (of suurlemoen)

Sop

  • 1½ liter water
  • 1 sitroengras (lemon grass)-stokkie, sonder die harde buitenste blare en gekneus deur dit onder ’n mes se platkant te stamp
  • 4 sprietuie, grofgekap
  • 2 baie sterk brandrissies, grofgekap
  • 8 steurgarnale (prawns), uit die dop en are verwyder (hou doppe)
  • 500 g koningmakriel- (King Mackerel) (of enige ander vis) bene, grate en flenters (geen kieue of longe ens. nie)
  • vars klappermelk van 2 of 3 kokosneute (of 2 blikkies klappermelk)
  • 800 g koningmakriel-filet, in klein blokkies gesny
  • 8 mediumgrootte krappe, skoongemaak maar heel en in die dop
  • vars koljanderblare
  • 4 sprietuie, in skyfies gesny

Stamp alles vir die pasta met ’n stamper en vysel saam tot ’n gladde, baie sterk, suur pasta. Gooi dit in ’n pot. Voeg die water, sitroengras, sprietuie en brandrissies by en bring tot kookpunt. Voeg die steurgarnaaldoppe, visbene en -flenters en klappermelk by. Prut stadig vir 45 minute (dit moenie kook nie). Geur met sout na smaak. Dreineer ná 45 minute en gooi in ’n skoon pot. Voeg die visfilet-stukke, steurgarnale en krap by, bedek en kook vir 3 – 4 minute tot gaar. Bedien dadelik met vars koljander en sprietui-skyfies as garnering.