Resepte

Risotto-balle met gerookte koningmakriel, steurgarnale en ’n Afrika groenslaai

Vis-aftreksel

(sowat 1,5 liter)

Dit klink dalk na moeite, maar jy sal sien, jou eie aftreksel is die lekkerste.

  • 1 kg bene, grate en flenters wat oorbly ná visfilette gesny is (geen kieue ens. nie), verkieslik nie van olierige vis nie
  • 2 uie, fyngekap
  • 1 selderystok (geen blare), fyngekap
  • 2 mediumgrootte wortels, fyngekap
  • handvol gekapte sampioene
  • 1 glas droë witwyn
  • 2 liter water
  • paar swartpeperkorrels, fyngedruk
  • 2 vars tiemietakkies
  • paar pietersielietakkies (geen blare)

Gooi al die bestanddele in ’n groot pot en laat stadig prut vir 40 minute. Belangrik: Dit moet glad nie kook nie! Dreineer en hou eenkant. As jy dit gaan gebruik vir hierdie resep, en jy maak dit dieselfde dag, kan jy dit oor lae hitte warm hou tot jy dit nodig het.

Risotto-balle

(6 – 8 balle afhangend van hoe groot jy dit vorm)

  • 15 ml botter
  • 30 ml sesamolie
  • 3 knoffelhuisies, fyngesnipper
  • 1 mediumgrootte ui, fyngesny
  • 500 ml arborio-rys
  • genoeg vis-aftreksel om rys gaar te kry (sowat een liter)
  • 200 g koningmakriel-filet (King Mackerel)
  • 10 ml botter
  • 200 g sesamsaad
  • sonneblomolie vir diepbraai

Sit die botter en sesamolie in ’n mediumgrootte pot. Voeg die knoffel en ui by. Braai liggies tot die ui deurskynend raak. Voeg die rys by en meng totdat al die korrels met olie bedek is. Terwyl jy aanhoudend roer, voeg die aftreksel lepel vir lepel by. Die rys moet die vloeistof absorbeer voordat jy die volgende lepelvol byvoeg. Ná sowat ’n halfuur hiervan sal die rys al dente wees (nog ferm, maar nie hard nie) en glansend lyk, en die korrels sal aan mekaar vassit. Posjeer die visfilet in die oorblywende vis-aftreksel (so 5 minute). Vlok dan die vis en voeg by die risotto, voeg die 10 ml botter by, roer deeglik maar sagkens deur en sit die rysmengsel in die yskas. Wanneer dit afgekoel het, gooi jy die sesamsaad op ’n bord uit. Gebruik ’n teelepel en jou hande om rysballetjies te maak met die rysmengsel, en rol hulle deur die sesamsaad totdat hulle goed bedek is. Doen dit met al die rys, en sit die balletjies terug in die yskas. Die verkoeling help om hulle ferm te hou as jy diepbraai.

Rook die vis en steurgarnale

  • 12 steurgarnale (prawns), skoongemaak en sonder are, maar in die dop
  • 800 g koningmakriel-filet, in 4 of 6 stukke gesny (hang af van hoeveel gaste jy het)
  • 8 rooibostee-sakkies

As jy nie ’n roker het nie, kan jy maklik self een maak. Trek ’n bakplaat oor met tinfoelie. Sit ’n klein stolrots-klippie (of ‘n stuk baksteen) in elke hoek, en sit ’n rooster bo-op. Breek vier van die teesakkies oop en sprinkel die tee oor die tinfoelie. Sit jou vis op die rooster, en verseël die hele ‘roker’ (bakplaat, rooster, vis en al) met tinfoelie. Dit is baie belangrik dat die tinfoelie lugdig verseël, anders gaan rook ontsnap. Sit die roker direk op die kole vir 15 – 20 minute. As jy jou oond wil gebruik, verhit dit tot 250 °C en sit die roker daarin vir 15 tot 20 minute. Herhaal net so vir die steurgarnale.

Om alles bymekaar te sit

Diepbraai die risotto-balle tot goudbruin. Dreineer op kombuispapier. Sit die garnale, vis en risotto-balle saam met ’n groenslaai voor. In Mosambiek gebruik ek kassawe- (‘n soort knolgroente) en ander inheemse blare, maar in SA kan jy avokadoskyfies insluit, en snye groen appel gedoop in suurlemoen.