Foto deur Lee Malan SARIE KOS FEB/MAART 2013

Resepte

Salm en gebreekte aartappels

Die aartappels word gaargemaak in bruin botter of “beurre noisette” soos die Franse dit noem
(genoeg vir 4)
Gaarmaaktyd: 20 minute

  • 60 g (60 ml) botter
  • 1 kg baba-aartappels, afgespoel en steeds nat
  • sout
  • hand vol dille-takkies, gekap
  • 45 ml olyfolie
  • 4 salmfilette, met die vel aan
  • skil en sap van suurlemoen
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 15 g (15 ml) botter
  • 2 rooi brandrissies, gekap (opsioneel)
  • 2 lemmetjies, in wiggies gesny

Verhit botter in ’n kastrol oor matige hitte. Voeg aartappels by en geur met sout. Plaas deksel op kastrol en skud liggies sodat al die aartappels met botter bedek word. Skud kastrol nou en dan terwyl aartappels gaar word en botter verbruin, sowat 20 minute. Breek gaar aartappels met ’n vurk rofweg in die helfte, sprinkel met dille en geur met sout. Verhit olyfolie in ’n pan oor lae hitte. Plaas salmfilette met velkant na onder in pan, moenie omdraai nie. (Jy sal sien hoe die vis gaar word.) Braai so lank jy verkies. Net voor gaar, gooi suurlemoensap en skil oor salm, geur met sout en peper en voeg die 15 g botter by. Bedruip salm met gesmelte botter in die pan. Sit voor met aartappels, rissies en lemmetjies.

Wenk
Gebruik ’n kastrol wat groot genoeg is sodat die aartappels in ’n enkele laag op die bodem kan gaar word.