sk07langtafels06
Gebak

Salm-en-groente-lasagne

(4-6 porsies)

Geroosterde groente

  • 200 g geskilde botterskorsie
  • 200 g murgpampoentjies, gewas en die punte afgesny
  • olyfolie
  • growwe sout

Sny die botterskorsie en murgpampoentjies in dun skyfies met ‘n mandoliensnyer of ‘n mes. Plaas die groente in ‘n oondpan en besprinkel met olyfolie en growwe sout. Sit die pan onder die oondrooster. Skroei die groente effens, roer deur en sit weer vinnig onder die rooster. Laat afkoel.

Pasta

  • 100 g meel
  • 30 g semolina
  • knippie sout
  • 1 eier
  • 15 ml olyfolie
  • 5 ml roket-en-basiliekruidpesto

Maak op ‘n geskikte werkblad ‘n klein dammetjie met die meel, semolina en sout. Breek die eier in die holte, voeg die olyfolie by en dan die pesto. Klits die eier en olyfolie liggies met ‘n vurk en begin die meel by die eiermengsel inwerk. Sodra ‘n deeg begin vorm, moet dit verder met die hande geknie word tot al die meel geabsorbeer is. As die mengsel te droog is, voeg water met die vingerpunte by en knie tot elasties. As dit te nat is, werk meel bietjie vir bietjie in. Maak ‘n deegbal, sit dit in ‘n bak en bedek met kleefplastiek. Laat rus vir 30-60 minute. Rol die pastadeeg met ‘n pastamasjien uit tot op die nr. 1-stelling. Strooi die pastadeeg gereeld met meel soos dit uitgerol word om te keer dat dit in die pastamasjien vassit.

 

Witsous

  • 100 g botter
  • 100 g meel
  • 1 liter melk
  • sout na smaak

Smelt die botter en voeg meel by om ‘n roux te maak. Kook die botter en meel vir ‘n oomblik en verwyder van die hitte. Voeg ‘n bietjie van die melk by totdat ‘n gladde pasta vorm. Sit dit terug op die plaat en voeg die res van die melk by terwyl jy deurentyd roer. Verhit stadig tot kookpunt en kook tot die sous dik genoeg is. Gooi sout by. Jy kan ook gerasperde kaas byvoeg.

 

Lasagne

  • die geroosterde groente, pasta en witsous
  • 500 g afvalstukkies gerookte salm
  • gerasperde matige cheddar

Maak die lasagne in individuele bakkies. (As jy dit in een bak wil maak, is dit beter om die gereg vooraf te maak en te verkoel sodat die lasagne kan “stol” voordat dit in porsies gesny en vlugtig opgewarm word.) Spuit elke bakkie goed met kleefwerende middel. Smeer ‘n bietjie witsous op die boom en pak van die salm en groente in twee lae bo-op. Sit die pasta bo-oor, gevolg deur ‘n laag witsous. Herhaal die lae en eindig met ‘n laag witsous. Sprinkel kaas bo-oor en bak teen 180 °C vir 20-30 minute. Sit voor met ekstra roket-en-basiliekruidpesto