Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS APRIL/MEI 2013

Resepte

Seekosbord

(genoeg vir 4)

Garnaalpotjie

Dit was een van die gunstelinge van Ian Fleming, skrywer van die James Bond-boeke. Hy het dit altyd by die Londense seekosrestaurant Scott’s geëet. – Wikipedia

  • 110 g (120 ml) botter
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 3 x 200 g-blikkies garnale, gedreineer
  • hand vol pietersielie, fyngekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Smelt botter saam met knoffel in ’n diep pan oor lae hitte. Voeg garnale by en braai sowat 1 minuut. Haal van hitte af en voeg pietersielie by. Geur met sout en peper. Skep in vier ramekin-bakkies en plaas in yskas. Verkoel tot botter hard is. Haal uit yskas sowat 10 minute voor jy die gereg voorsit.

Gekrummelde steurgarnale

Koop sommer klaar skoongemaakte bevrore steurgarnale en ontdooi in ’n vergiettes in die yskas sodat dit koel bly .

(sowat 20 blokkies)

  • 400 g skoongemaakte bevrore steurgarnale
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 1 eier, geklits
  • 250 ml droë broodkrummels
  • sowat 500 ml sonneblomolie
  • vars suurlemoene vir voorsit

Plaas steurgarnale in ’n mengbak. Geur met sout en peper. Gooi geklitste eier oor en maak seker steurgarnale is goed bedek. Gooi broodkrummels in plat bak. Rol al die steurgarnale in broodkrummels en bedek goed. Verhit olie in diep kastrol. Toets of die olie se temperatuur reg is deur eers net een steurgarnaal te braai. As dit binne 5 minute bros en gaar is, weet jy die olie is reg. Braai res van steurgarnale – nie alles op een slag – en dreineer op kombuispapier. Sit voor saam met vars suurlemoen.

Gebraaide kammossels

Kammossels staan in Engels bekend as “scallops”. Ons kry nie vars kammossels in ons land nie, net die bevrore produk.

  • 15 g (15 ml) botter
  • 12 bevrore kammossels
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • sap van halwe suurlemoen

Haal kammossels uit skulpe. Verhit botter in pan. Die botter moet begin borrel voor jy die mossels insit. Braai die mossels so 2 minute voor jy dit versigtig omdraai. Braai verder vir nog so 2 minute. Haal van hitte af en geur met sout en peper. Sprinkel suurlemoensap oor en plaas terug in skulpe.

Klein yorkshirepoedings

Ook bekend as beslagpoeding. Dis genoem na Yorkshire in Noord-Engeland en gewoonlik voor die hoofgereg geëet om die maaltyd meer vullend te laat voel en lyk. Tradisioneel is dit met oondgebraaide beesvleis en vleissous (gravy) voorgesit.

(12 yorkshire-poedings)

  • 140 g (250 ml) koekmeel
  • 4 eiers
  • 200 ml melk
  • 140 ml sonneblomolie

Verhit oond tot 230 °C. Sif meel in mengbak. Voeg eiers by en klits goed tot klonte weg is. Voeg melk bietjiesbietjies by terwyl jy heeltyd klits tot ’n gladde beslag vorm. Gebruik ’n standaard-muffinpan en gooi ’n eetlepel sonneblomolie (so 15 ml) in elk van die 12 holtes. Plaas pan in oond vir minstens 15 minute tot die olie baie warm is. Haal pan nou versigtig uit oond. Verdeel beslag tussen holtes tot elkeen so halfpad vol is. Plaas in warm oond en bak 25 minute. Die yorkshire-poeding word nou as brood voorgesit wat goed pas by die garnaalpotjies.