Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS JUNIE/JULIE 2013

Gebak

Spaghetti-en-steurgarnaal-gebak

Al ooit daaraan gedink om spaghetti in ʼn pastagebak te gebruik? Dit werk veral goed saam met steurgarnale en spek.
(genoeg vir 6)

  • 30 ml olyfolie
  • ½ ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 250 g strepiespek (streaky), in blokkies gesny
  • 200 g baba-spinasieblare
  • 500 ml room
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 30 g (30 ml) botter
  • 450 g bevrore steurgarnale, ontdooi
  • 1 x 500 g-pak spaghetti
  • 370 g fetakaas

Verhit oond tot 180 °C. Verhit olyfolie in ’n diep pan. Voeg ui, knoffel en spek by. Braai tot spek bruin word en ui sag is. Voeg spinasie by en braai tot spinasie verlep het. Voeg room by, geur met sout en peper en laat kook oop tot room effe verdik het. Smelt botter in ’n pan. Braai steurgarnale tot net pienk. Gooi enige sous af wat dalk in die pan gevorm het. Voeg garnale by spinasiesous. Kook pasta volgens aanwysings op verpakking. Dreineer en meng met sous. Gooi mengsel in ronde bak wat groot genoeg is. Sprinkel fetakaas bo-op en sprinkel klein bietjie olyfolie oor die kaas. Plaas in oond en bak tot fetakaas bruin is bo-op, sowat 20 – 30 minute.

Wenk
Ontdooi steurgarnale in ’n vergiettes sodat die vloeistof afloop en die garnale nie daarin lê nie.