Resepte

Steurgarnaal-risotto met gremolata (knoffelgarnering)

(4 – 6 porsies)

  • 15 ml botter
  • 15 ml olyfolie
  • 6 sprietuie, fyngekap
  • 500 g (625 ml) arborio-rys
  • 5 ml borrie
  • 250 ml witwyn
  • sowat 1,5 liter hoenderaftreksel
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 15 ml botter
  • 1 knoffelhuisie, fyngekap
  • 200 g steurgarnale (prawns) uit die dop (hou 2 per persoon in die dop eenkant vir garnering)
  • sap van 1 suurlemoen
  • 50 g pecorinokaas, gerasper

Gremolata

  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • handvol pietersielie, fyngekap
  • fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
  • 25 g parmesaankaas, gerasper

Meng al die gremolata-bestanddele en hou eenkant tot benodig. Verhit 15 ml botter en die olyfolie saam in ’n kastrol. Braai die sprietuie hierin vir sowat 1 minuut. Voeg die arborio-rys en borrie by, en braai vir omtrent 2 minute. Hou aan met roer. Gooi die witwyn by en kook amper heeltemal weg. Voeg die hoenderaftreksel nou soplepel vir soplepel by. Ná elke byvoeging moet die aftreksel byna wegkook terwyl jy aanhoudend roer. Geur met sout en peper. Smelt die tweede 15 ml botter in ’n pan saam met die knoffel. Braai die steurgarnale tot gaar. Die steurgarnale sal ná omtrent 5 minute pienk word – nou is hulle gaar. Geur met sout en peper. Drup die suurlemoensap oor en hou hulle eenkant. Braai die steurgarnale in die dop op dieselfde manier. Wanneer jou risotto reg is, voeg die pecorinokaas daarby en dan die uitgedopte steurgarnale. Skep in bakkies en garneer met steurgarnale in die dop en die gremolata.

 

Om te drink

Die gereg en die wyn daarby moet mekaar se smake balanseer – nie een moet oorheers nie. Gremolata het baie sterk geure, en ’n volronde wyn sal dit goed aanvul. Beproef Groote Post Chardonnay 2006 uit Darling se wêreld. Dit spog met vier sterre van SA-wynghoeroe John Platter.