Foto deur Mickey Hoyle

SARIE KOS APRIL/MEI 2013

Foto deur Mickey Hoyle SARIE KOS APRIL/MEI 2013

Resepte

Tamatie-risotto met chorizowors en gerookte forel

Dis nou ʼn ware uithaal-en-wys-risotto. Die kombinasie van die chorizo en forel is ʼn wenner.
(Genoeg vir 4 – 6)

  • 1 sakkie saffraan
  • 15 ml olyfolie
  • 15 g (15 ml) botter
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 400 g klein rosa-tamaties
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 500 ml arborio-rys
  • 250 ml witwyn
  • 2 liter warm hoenderaftreksel
  • sowat 300 g gerookte forelfilet
  • 15 ml olyfolie
  • sap van halwe suurlemoen
  • 15 ml olyfolie
  • 4 Spaanse worse (chorizo), in skywe gesny
  • 200 g pamesaankaas, fyngerasper
  • 125 g crème fraîche
  • groot hand vol bronkors (watercress)

Verhit oond tot 200 °C. Plaas saffraan in klein bakkie en gooi sowat 30 ml kookwater oor. Laat staan so 20 minute tot die kleur van die water diep-oranje is. Verhit olyfolie en botter in diep pan. Voeg ui, knoffel en tamaties by. Braai tot ui sag en deurskynend is en tamaties begin oopbars. Geur met sout en peper. Voeg rys en saffraanwater by en braai sowat 1 minuut. Voeg wyn by en braai (terwyl jy roer) tot wyn feitlik weggekook het. Gebruik ’n sopskeplepel om die aftreksel by te voeg. Skep een lepel aftreksel op ’n slag by rysmengsel en hou aan met roer. Die hele proses sal sowat 40 minute duur. So 15 minute voor die risotto reg is, plaas jy die gerookte forelfilet op ’n bakplaat met velkant na onder. Sprinkel 15 ml olyfolie en suurlemoensap oor en geur met sout en peper. oondbraai so 10 – 12 minute. Verhit die laaste 15 ml olyfolie en braai die worsskywe tot bros. Wanneer die rys sag is, voeg kaas by en meng. Voeg gebraaide wors by. Verdeel die vis in 6 porsies. Skep risotto op elke gas se bord met stukkie vis bo-op. Skep ’n eetlepel crème fraîche bo-op en rond af met ’n takkie bronkors.

Om te weet

  • Risotto word met arborio-rys gemaak. Die rys se korrel is kort en vet.
  • Onthou, die rys sal feitlik verdubbel in volume wanneer jy die risotto maak.
  • Die meeste Italianers hou daarvan dat die rys nog effens hard is. Jy kan self kies hoe lank die rys moet kook en hoe sag jy jou risotto wil hê.
  • ’n Kort aspersie is een waarvan die agterste harde gedeelte verwyder is.