Gebak

Thai-viskoekies met doopsous

Thai-viskoekies met Viëtnamese nuoc cham-doopsous is so maklik en vinnig om te maak, daar’s geen rede om ooit weer flou van die honger te moet rondstaan totdat die hoofmaal gereed is nie. Die doopsous het ’n skerp geur en kan ook met hoendersaté of ryspapierrolletjies voorgesit word.

Viskoekies (28-30 klein viskoekies)

  • 1 kg stokvisfilette, in blokkies gesny
  • 1 eier
  • 2 e (30 ml) Thai-rooikerriepasta
  • 2 t (10 ml) suiker
  • 1 e (15 ml) Thai-vissous
  • 2 e (30 ml) fyngekapte vars koljanderblare, van stingel gestroop
  • 5 stingeluie, slegs wit gedeeltes, fyngekap
  • olie vir braai

Nuoc cham

  • 1 klein groen brandrissie, ontpit en wit membraan weggesny
  • 1-2 t (5-10 ml) fyn knoffel
  • 2 e (30 ml) sagte bruinsuiker
  • 4 e (60 ml) Thai-vissous
  • 4 e (60 ml) rys-asyn
  • 2 e (30 ml) lemmetjiesap
  • 2 e (30 ml) sesamolie (opsioneel)

Stap 1:
Verwerk al die bestanddele vir die viskoekies, behalwe die olie, in ’n voedselverwerker tot glad.

Stap 2:
Vorm die mengsel in plat koekies. As daar tyd is, kan die koekies 30 minute of langer in die yskas gebêre word om ferm te word.

Stap 3:
Gooi genoeg olie in ’n pan, sodat dit ongeveer 3 cm diep is. Verhit die olie oor hoë hitte en bak die viskoekies aan albei kante tot goudbruin. Skep met ‘n gaatjieslepel uit en dreineer op kombuispapier.

Stap 4:
Verwerk al die bestanddele vir die doopsous teen hoë spoed in ‘n elektriese versapper tot heeltemal versap – ongeveer 45 sekondes. Skink die sous in doopsousbakkies en sit voor saam met die warm viskoekies. Die sous sal 3 dae in die yskas hou.