Foto deur Micky Hoyle

SARIE KOS JUNIE/JULIE 2013

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS JUNIE/JULIE 2013

Pasta

Tuna-en-rooisoetrissie-lasagne

Ek het ʼn ruk gelede ʼn pastagereg gemaak wat ek gebarste-tamatie-spaghetti noem. Die tamaties word in baie olyfolie gebraai en wanneer hulle oopbars, vorm ʼn sous saam met die olyfolie. Ek voeg tuna en soetrissies by om die sous verder op te kikker. My weergawe Tuna-en-rooisoetrissie-lasagne

(genoeg vir 6 – 8)

Tuna-vulsel

  • 125 ml olyfolie
  • 600 g klein rosa-tamaties
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 2 rooi soetrissies, pitte uitgehaal en in blokke gesny
  • 3 x 170 g-blikke heel stukke tuna
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit olyfolie in ’n diep kastrol. Voeg tamaties by en braai tot dit begin bars. Voeg knoffel en soetrissies by. Braai tot soetrissies sag is. Dreineer tuna en vlok in groot stukke. roer tuna deur sous en geur met sout en peper. Hou eenkant.

Witsous (stap-vir-stap-gids)

  • 185 g (200 ml) botter
  • 100 g (180 ml) koekmeel
  • 1 liter warm melk
  • 250 ml room
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Plaas botter in ’n kastrol en smelt oor lae hitte. Verwyder van hitte en voeg meel by. Roer baie goed tot ’n gladde pasta vorm. Plaas terug op stoofplaat, voeg die warm melk by en roer heeltyd om klonte te voorkom. Voeg room by en hou aan met roer tot die sous verdik het. Geur met sout en peper. Hou eenkant.

Samestelling van gereg

  • 18 lasagne-velle
  • 100 g parmesaankaas, fyngerasper
  • 30 g (30 ml) botter

Verhit oond tot 180 °C. Gooi witsous onderin ’n bak van 30 x 20 x 6 cm. Pak ’n enkellaag van 3 velle pasta bo-op. Gooi ’n dun lagie witsous bo-oor en pak weer ’n laag van 3 velle pasta bo-op, gevolg deur ’n laag van die tuna-vulsel. Nou volg nog ’n enkellaag van 3 velle pasta, nog ’n laag witsous, en weer ’n enkellaag van 3 velle pasta. Skep die res van die tuna-vulsel bo-op. Pak weer 3 velle pasta op, dan weer witsous en die laaste 3 velle pasta. Gooi res van witsous oor en sprinkel kaas bo-op. Stip met botter en plaas in oond. Bak so 45 minute – 1 uur. Toets met dun pennetjie of pasta sag is. Sit voor saam met gekoopte basiliekruid-pesto.

Tuna-en-rooi-soetrissie-lasagne

Tuna-en-rooi-soetrissie-lasagne
FOTO: Micky Hoyle