Gebak

Vis en tjips

(3 porsies – 2 stukke vir elkeen)

  • 6 porsies bevrore stokvisfilette

Beslag

  • 120 g koekmeel
  • 1 eiergeel
  • 90 ml bier (drink gerus die res)
  • 1 ml sout
  • 45 ml melk, gemeng met 30 ml koue water
  • 2 eierwitte
  • sowat 600 ml sonneblomolie om vis in te braai

Sit die koekmeel in ‘n mengbak. Maak ‘n holte in die middel van die meel. Gooi die eiergeel, bier en sout in die middel van die holte. Meng baie goed. Ek gebruik gewoonlik ‘n ballonklitser – dis die een wat sjefs gebruik. Maak seker dat daar geen klonte is nie. Voeg die melkwater geleidelik by en meng tot glad. Maak die bak met ’n vadoek toe en laat die beslag vir minstens 30 minute rus. Klits die eierwitte tot sagte punte vorm. Vou nou die geklopte eierwitte versigtig by die beslag in. Verhit die olie in ‘n kastrol. Doop 2 tot 3 visfilette in die beslag en wanneer dit goed bedek is, sit dit versigtig in die warm olie. Braai die vis sowat 4 tot 5 minute aan weerskante. Haal versigtig uit die warm olie. Dreineer op kombuispapier en herhaal met die res van die vis. Sit voor saam met tjips.

Om te drink
Ek verkies ‘n yskoue, kraakvars witwyn soos Du Toitskloof Sauvignon Blanc by vis, maar ‘n koue bier is ewe lekkersaam met vis en tjips. Die verfrissende suurgehalte van die wyn sal goed pas by die effe olierige vis en tjips.