FOTO Micky Hoyle
SARIE KOS AUGUSTUS/SEPTEMBER 2014

FOTO Micky Hoyle SARIE KOS AUGUSTUS/SEPTEMBER 2014

Resepte

Vissop met kreef

Om bouillabaisse oftewel vissop te maak is ’n baie lang proses. Hier is my maklike weergawe daarvan.

genoeg vir 6

• 1 lemoen
• 1 kg koningklip
• 3 x 410 g-blikke gekapte tamaties
• 175 ml olyfolie
• 2 uie, fyngekap
• 1 groot tak vars vinkel
• 5 ml borrie
• 2 lourierblare
• 30 g pietersielie, fyngekap
• 3 knoffelhuisies, fyngekap
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 3 krewe

Verhit oond tot 180 °C. Skil lemoen se skil in lang repe met ’n groenteskiller. Plaas op ’n bakplaat en sit in oond. Bak tot lemoenskil droog is. Sny vis in blokke van 3 – 4 cm groot. Plaas vis, gedroogde lemoenskil en res van bestanddele (behalwe geurmiddels en kreef) saam in ’n groot diep kastrol. Geur met sout en peper. Roer goed deur, plaas op stoofplaat en bring tot kookpunt. Laat 12 – 15 minute oop kook. Maak seker die vis is gaar. Kook krewe tot gaar. Sny middeldeur en maak skoon. Skep sop in opdien-bakke. Plaas ’n halwe kreef op sop en skep aïoli in kreef. Garneer met vars vinkel.