Foto deur Micky Hoyle

SARIE KOS APRIL/MEI 2013

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS APRIL/MEI 2013

Resepte

Visworsies

Dit lyk soos varkworsies, maar die vulsel is vis. Jy vorm self die worsies en draai dit toe in Spaanse serrano-ham. Dit beteken bergham, en dis goedkoper en breër as parmaham.
(sowat 10 worsies)

  • 250 g gerookte forelfilet
  • 380 g stokvisfilet
  • 2 snye witbrood, korsies afgesny en in stukke gesny
  • 1 eierwit
  • 1 klein uitjie, fyngekap
  • 10 vars basiliekruidblare
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 10 snye serrano-ham
  • 30 ml olyfolie
  • suurdeegbrood
  • mayonnaise

Verwyder die vel van die forel en stokvis. Sny in stukke en sit in ’n voedselverwerker se bak. Voeg witbrood, eierwit, ui en basiliekruidblare by die vis. Verpulp tot glad. Geur met sout en peper. Verdeel vulsel in tien en vorm elke stuk dat dit soos ’n varkworsie lyk. Plaas een sny serrano-ham op ’n groot stuk kleefplastiek, sit gevormde vulselworsie bo-op en draai toe met ham. Draai dié worsie nou deeglik toe met kleefplastiek en draai dan deeglik toe met tinfoelie. Dit sal soos ’n Kersklapper lyk. Herhaal proses met al die worsies. Plaas in yskas vir sowat 1 uur. Gooi water in ’n diep pan en bring tot kookpunt. Plaas worsies in kokende water. Laat kook sowat 10 – 15 minute. Draai nou en dan om. Haal uit en wag tot die worsies genoeg afgekoel het dat jy daaraan kan raak. Verwyder tinfoelie en kleefplastiek. Verhit olyfolie in pan en braai worsies sowat 2 minute. Sit voor saam met geroosterde suurdeegbrood, gebraaide steurgarnale en mayonnaise van jou keuse.