sk_apr_mei2013_cover
Resepte

2de plek wenner Juanita du Toit se hamburger resep

(maak 10-12 groot patties)

  • 500g maer beesmaalvleis
  • 2-3 varkworsies, Country Sausage-geur.
  • 125ml elk vars koljander en pietersielie, fyngekap
  • 1 medium ui,  fyngekap
  • 2 huisies knoffel, fyngekap
  • 2 eetlepel (tsp)  gemaalde koljander
  • 1 eetlepel komyn
  • 1 eetlepel gerookte paprika
  • 1 eetlepel braai-speserye
  • 2 eetlepels blatjang
  • 2 eetlepels Worcestersous,
  • 2 snye witbrood, in klein stukke opgeskeur
  • 2 eiers
  • sout en peper na smaak
  • koekmeel om op patties te sprinkel voor braai (opsioneel)
  • 20-30ml olie, vir braai
  • 6-8 ciabattas/broodrolletjies
  • 6-12 snye beleë cheddarkaas
  • vars blaarslaai van jou  keuse

Druk die varkworsies uit in ‘n groot mengbak, meng al die bestandele (behalwe broodrolletjies , cheddarkaas en slaaiblare) met jou hande en maak seker dat alles mooi gemeng is.  Maak balletjies(patties) met jou hande, druk plat sodat dit ‘n koekievorm kry, sit op ‘n  groot bord en verkoel tot nodig.

Om te braai: gooi bietjie olie in ‘n pan, besprinkel die patties liggies met meel dat dit  wit of grys voorkom,  braai nou patties in ‘n warm pan vir ‘n minuut of twee om kleur te kry en dan nog ‘n minuut of twee op bietjie laer  hitte.  Draai om en doen dieselfde . (Elke kant moet so tussen 3-5min gebraai word en dan dadelik  voorgesit word.)

 

Tamatiesmoor

  • 20 ml botter
  • 1 pakkie babatamaties (600g), in die helfte gesny
  • 1 eetlepel matige kerriepoeier
  • 1-2 eetlepels bruinsuiker
  • 2-3 eetlepels tamatiepasta
  • sout en peper na smaak

In ‘n medium potjie,  verhit die botter tot dit begin verkleur (“burned butter”), gooi gesnyde tamaties in en braai dit vir ‘n minuut of 3. Gooi daarna al die ander bestanddele in die pot,  stel die hitte laer en sit die deksel op. Die sous moet liggies kook tot verlangde dikte, so tussen 15-30 minute.

Komkommer-raïta

  • halwe, groot komkommer, grofgerasper
  • sout en peper na smaak
  • 3-4 eetlepels Griekse jogurt
  • paar blaartjies vars kruisement, fyngekap

Sit die komkommer in ‘n sif of vergiettes dat oortollige vog kan uitloop, sprinkel bietjie sout oor en laat ‘n halfuur staan. Gooi in ‘n bakkie en meng ander bestanddele saam met komkommer en geur indien nodig. Die raïta kan op die burger self bedien word indien verkies, of aan die kant as ‘n vars by-happie.

 

Maak dan só

Sny broodjies in die middel deur, sit blaarslaai op die onderkant, gevolg deur die pattie, tamatiesmoor, snytjie kaas en dan die raïta, of weer tamatiesmoor. Maak toe en geniet!