Resepte

Afrika-beesvleis-kerrie

6 – 8 porsies

  • 50 ml sonneblomolie
  • 1,6 kg steak (rump), in groot skywe gesny
  • 2 uie, fyngekap
  • 3 knoffelhuisies, fyngekap
  • 20 ml masala
  • 20 ml borrie
  • 5 ml fyn gemmer
  • 5 ml fyn kaneel
  • 10 ml fyn komyn
  • 10 ml fyn koljander
  • 5 ml brandrissie-vlokkies
  • sade van 4 kardemom-peule
  • sap van ’n halwe suurlemoen
  • 1 blik gekapte tamaties
  • 1 blik klappermelk
  • 1 blik lensies, gedreineer
  • 2 blikke kekerertjies (chick peas), gedreineer
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Verhit oond tot 180°C. Verhit sonneblomolie in ’n groot, oondvaste kastrol en braai vleis tot bruin. Voeg uie, knoffel en droë speserye by en braai alles saam vir 2 minute. Roer suurlemoensap, tamaties, klappermelk, lensies en kekerertjies by. Geur met sout en swartpeper. Maak toe met deksel en sit in die oond vir sowat 2 ½ uur tot vleis sag is. Hou dop: Indien nodig, kan jy nog water byvoeg. Sit voor saam met atjar, tamatie-en-ui-salsa, gebraaide piesangs, roti’s, gekapte komkommer en basmati-rys.

Om te drink
’n Rooi versnit, soos Le Bonheur Prima, ’n staatmaker-versnit van merlot en cabernet sauvignon.