Resepte

Annatjie se skaapafval

  • 1 skoongemaakte en ontbeende skaapkop (die harsings moet uit die kopbeen gehaal en in die blaarpensie toegedraai en vasgebind word)
  • 1 skaappens, silwerskoon en in repe of blokkies gesny (behalwe die blaarpens wat vir die harsings gehou word)
  • 4 skaappootjies, goed skoongemaak en die kliere tussen die kloutjies verwyder
  • 1 kleinerige skaapnek, in 2 gesny
  • 1 groot ui, in ringe gesny
  • sout na smaak (afval moenie te sout wees nie)
  • grof gemaalde swartpeper
  • sowat 5 ml grof gemaalde of gestampte koljander
  • knippie vars gemaalde neutmuskaat
  • 6 middelslag aartappels, geskil

Sit al die bestanddele, behalwe die aartappels, in ‘n swaarboomkastrol en gooi sowat 2 koppies water by. Kook stadig op die stoof. Onthou, die afval sal lank neem. Sorg dat die watervlak reg is – jy wil genoeg water hê om die afval sag te kook, maar nie sop maak nie. Sit die plaat ná 1½ uur af en laat die afval afkoel. Proe en geur met sout indien nodig. As jy kerrie-afval wil maak, braai 15 ml kerriepoeier en 15 ml borrie vir 1 minuut in ’n bietjie olyfolie. Gooi 125 ml kookwater by, meng goed en voeg by afval. Roer goed deur. Sit die afval terug op die stoof en kook verder tot sag. Hou die watervlak dop – dit moet lymerig wees. Kook intussen die aartappels halfgaar en wanneer die afval sag word, sit die aartappels bo-op en kook saam vir minstens 10-15 minute. Skep die afval in ‘n plat oondbak en sit vir 10-15 minute in ‘n warm oond teen 180 °C om mooi bruin te word. Die geheim is om die afval te laat rus tydens die kookperiode, m.a.w. kook die eerste fase vandag en die laaste fase môre. So kry jy die lymerige produk wat jy wil hê.