Foto deur Micky Hoyle

SARIE KOS FEB/MAART 2013

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS FEB/MAART 2013

Resepte

Barbara se manier van geskroeide carpaccio

Die oorspronklike Italiaanse gereg is gemaak van baie dun, byna deurskynende skyfies rou vleis. Daarvoor het jy ʼn spesiale masjien nodig. My manier van carpaccio maak is om die vleis eers in ʼn  baie warm pan te skroei en dan te laat afkoel. Dis heerlik as ligte middagete of as voorgereg
(genoeg vir 4)

  • 2 takkies vars roosmaryn van sowat 6 cm elk
  • hand vol italiaanse pietersielie
  • 750 g heel rib-steak (rib-eye) of filet
  • growwe sout
  • 30 ml olyfolie
  • vars bronkors (watercress)
  • gemarineerde brandrissies (koop by jou deli of supermark)
  • 100 g parmesaankaas
  • olyfolie om oor te sprinkel

Breek die blaartjies af van die roosmaryntakkies. Plaas op houtplank en kap fyn. Kap pietersielie ook fyn en meng goed met roosmaryn. Sprei kruie oor houtplank. Geur jou keuse van vleis rondom met sout en sprinkel helfte van olyfolie oor. Vryf olie goed in vleis in, sommer met jou hande. Plaas vleis boop kruie en rol sodat dit goed bedek is met die kruie. Verhit ’n kleefvrye pan en gooi res van olyfolie in. Plaas vleis in pan en braai rondom tot mooi bruin.Onthou, dis carpaccio, so dit moet nog heeltemal rou aan die binnekant wees – net die buitekant van die steak is gebraai. Haal uit pan en laat heeltemal koud word. Dis nogal moeilik om die steak baie dun te sny, maar sny dit so dun as moontlik in skywe. Plaas ’n groot stuk kleefplastiek op jou werkoppervlak en plaas een skyf steak bo-op. Plaas ’n stuk kleefplastiek bo-op en gebruik jou koekroller om dit dunner te kap. Plaas op opdienbord en herhaal met res. Rangskik bronkors en gemarineerde brandrissies op opdienbord. Maak skaafsels met ’n groenteskiller van die parmesaankaas. Rangskik kaas bo-op en sprinkel ’n bietjie olyfolie oor. Sprinkel gremolata oor.

Gremolata

  • Fyngerasperde skil van 2 suurlemoene
  • 4 knoffelhuisies, fyngekap
  • 2 hande vol pietersielie, fyngekap

Meng al die bestanddele goed saam en sprinkel oor carpaccio.

Vleissnit gebruik – heel rib-steak of filet. Die rib-eye-snit is goedkoper as filet, maar dit bevat meer vet.