sk08_3broodjies06
Resepte

BLT-bagel

(4 porsies)

  • 4 bagels
  • 500 g repiespek (streaky bacon) (ek weet dit klink baie, maar dis waaroor die hele toebroodjie gaan)
  • so 2 groot stukke iceberg-blaarslaai per broodjie (dis die gewone bros blaarslaai waarmee ons almal grootgeword het)
  • 3 tamaties, in skywe gesny
  • 120 ml romerige mayonnaise (sowat 30 ml per broodjie)
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Sny die bagels middeldeur. Plaas met die oopgesnyde dele na bo op ’n bakplaat. Rooster die bagels vinnig onder die rooster-element van jou oond tot effens bruin. Hou eenkant. Plaas al die spek op ’n bakplaat en dan onder jou oond se rooster-element. Wanneer die spek bros is, hou warm tot jy al die spek só gerooster het (indien alles nie op een slag wou pas nie). Plaas stukke blaarslaai op die oopgesnyde deel van die onderkant van die bagel, en dan tamatieskywe. Skep die mayonnaise bo-op die tamatieskywe. (Jy kan natuurlik minder as 30 ml mayonnaise op elkeen gebruik as jy wil.) Plaas die warm spek bo-op, geur met sout en swartpeper, en maak toe met die boonste helfte. Sit dadelik voor.

Wenk
Braai die spek liewer onder die rooster-element as in ‘n pan. Dit sal nie so opkrul nie, die vet braai uit en die spek is lekker bros.