Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS AUGUSTUS/SEPTEMBER 2014

Resepte

Croque-monsier en croque-madame

’n Croque-monsieur en ’n croquemadame tel onder die lekkerste broodjies wat jy kan eet. Die twee is dieselfde, maar die madame word met ’n gebakte eier boop voorgesit.

Genoeg vir 4
• 80 g (85 ml) ongesoute botter
• 20 g (35 ml) koekmeel
• 185 ml melk
• 10 ml Dijon-mosterd
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 1 eiergeel, geklits
• 8 snye ham
• 8 snye suurdeegbrood
• 200 g gruyère-kaas, fyngerasper
• 100 g (110 ml) botter
• 50 g baba-blaarslaai

Vinaigrette
• 50 ml olyfolie
• 30 ml suurlemoensap
• 10 ml Dijon-mosterd
• 1 eiergeel
• 5 ml bruinsuiker
• sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit oond se rooster-element. Smelt botter in ’n kastrol. Voeg meel by en roer tot gladde pasta vorm. Voeg melk bietjies-bietjies by en hou aan met roer tot sous dik gekook het. Haal af van hitte en laat effens afkoel. Voeg mosterd by en geur met sout en peper. Voeg eiergeel by en meng goed. Plaas ’n sny ham op elk van 4 snye van die brood. Smeer mosterdsous dik bo-op. Sprinkel van die kaas bo-op en plaas nog ’n sny ham bo-op. Maak broodjies toe met res van brood. Smelt botter in ’n groot pan. Braai broodjies weerskante tot bros en plaas op ’n bakplaat. Smeer res van sous bo-op en sprinkel res van kaas bo-op. Plaas onder rooster-element tot kaas gesmelt het om die croque monsieur af te rond. As jy ’n croque-madame verkies, bak net ’n eier om bo-op te sit. Meng al die bestanddele vir die vinaigrette. Sit die warm broodjies voor met ’n groenslaai en die vinaigrette.