FOTO Donna Lewis
SARIE September 2014

FOTO Donna Lewis SARIE September 2014

Resepte

Frikkadel-kerrie

genoeg vir 6

SOUS
45 ml olyfolie
1 ui, fyngekap
30 ml vinkelsaad
30 ml rissievlokkies
45 ml gerookte masala
20 ml borrie
2 lourierblare
2 x 410 g-blikke klappermelk
1 x 410 g-blik gekapte tamaties
1 hand vol koljander, fyngekap
sout en varsgemaalde swartpeper

FRIKKADELLE
500 g maer maalvleis
1 ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
1 cm vars gemmer, fyngerasper
15 ml fyn koljander
5 ml fyn kaneel
15 ml fyn komyn
2 eiers
100 g fyn broodkrummels

Sous Verhit olyfolie in groot braaipan tot warm. Voeg ui, vinkelsaad en rissievlokkies by. Roerbraai vir 5 minute of tot uie begin verbruin – as dit lyk of die speserye begin brand, gooi ’n bietjie water by. Voeg res van speserye vir die sous by en roerbraai verder vir nog 5 minute of tot mengsel geurig is. Gooi klappermelk en tamaties by. Meng deur. Verlaag hitte en laat stadig prut vir 20 – 25 minute of tot dik, romerige sous vorm. Roer vars koljander deur. Geur goed met sout en peper. Hou eenkant. Frikkadelle Verhit oond tot 180 °C. Meng al die bestanddele en geur goed. Verdeel mengsel in 16 frikkadelle. Pak frikkadelle in oondbak en gooi kerriesous oor. Bak vir 25 – 30 minute of tot frikkadelle gaar is en begin verbruin. Sit voor met geelrys.