FOTO Micky Hoyle

SARIE KOS DES 2012/JAN 2013

FOTO Micky Hoyle SARIE KOS DES 2012/JAN 2013

Resepte

Gekrummelde lamstjops met parmesaankaasertjies

genoeg vir 4
Braaityd: 15 minute

• 8 lamslendetjops
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 1 geklitste eier
• 125 ml fyn broodkrummels
• 30 – 45 ml olyfolie
• 500 g klein bevrore ertjies
• 30 g (30 ml) botter
• 70 g parmesaankaas, fyngerasper
• suurlemoenwiggies vir voorsit

Plaas tjops in ’n mengbak. Geur met sout en peper. Gooi geklitste eier oor en maak seker die tjops word goed bedek met eier. Gooi broodkrummels in plat bak. Rol elke tjop in krummels tot dit goed bedek is. Verhit olyfolie in pan. Die olie moenie baie warm wees nie, anders sal die tjops aan die buitekant brand terwyl dit nog rou in die middel is. Braai tot mooi goudbruin weerskante. Dreineer op kombuispapier. Kook ertjies tot sag. Dreineer en gooi in bak. Voeg botter by en druk effe fyn met vurk. Roer kaas deur en geur met sout en peper. Sit tjops voor met ertjies en suurlemoenwiggies.

WENK Jy kan die lamstjops met varktjops vervang. Die lamstjops kan ook in die oond gebak word. Verhit oond tot 180 °C. Gooi olie in oondbraaibak en verhit eers in oond. Plaas tjops in warm olie en oondbraai sowat 30 minute.