pies_page_3
Resepte

Gerookte varkpastei

(8 pasteie van so 12 cm in deursnee)

  • 40 ml olyfolie
  • 1,3 kg gerookte varklende
  • sap van 1 suurlemoen
  • 15 ml vinkelsade
  • 3 knoffelhuisies, fyngekap
  • varsgemaalde swartpeper
  • 250 ml groenteaftreksel
  • 1 pak (800 g) vierkantige velle blaardeeg (4 velle van 200 g elk)
  • 1 geklitste eier

Verhit oond tot 160 °C. Sprinkel olyfolie in oondbraaibak. Plaas varklende in die bak. Sprinkel suurlemoensap oor. Stamp die vinkelsade effe fyn met ’n stamper en vysel. Vryf sade en knoffel oor varklende. Geur met peper. Gooi groenteaftreksel in bak en maak toe met tinfoelie. Plaas in oond en oondbraai 4 – 5 uur. Haal uit en vlok vleis met twee vurke. Laat heeltemal koud word. Verhit oond tot 200 °C. Sny elke vierkantige deegvel in vier. Jy sal nou 16 vierkante hê.

Skep ’n groot opgehoopte lepel vol vulsel in die middel van elk van 8 vierkante. Smeer met geklitste eier om rand. Plaas ’n vierkant deeg bo-op elkeen en druk goed vas om die rand. Vou die rand van die pasteie om om stewig toe te maak. Plaas pasteie op bakplate wat uitgevoer is met bakpapier. Verf bo-op met geklitste eier en plaas in warm oond. Bak vir 45 minute tot 1 uur. Die deeg moet bros en goudbruin wees.

Wenk

As jy gerookte varkvleis kook, moet jy liefs nie sout byvoeg nie. Die vleis is klaar sout.