sk08_4st.john02
Resepte

Geroosterde varkribstuk met rape, knoffel en ansjovis-filette

(6 porsies)

  • sowat 2,5 kg varkribstuk, op die been en met die vel aan (jy wil ses lendeskyf-tjops hê)
  • 2 uie, fyngekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Sous

  • 18 knoffelhuisies
  • 1 blikkie ansjovis-filette, gedreineer en fyngekap
  • handvol kappertjiesaad
  • handvol pietersielie, fyngekap
  • sowat 50 ml olyfolie
  • 15 ml rooiwyn-asyn
  • 12 klein of 6 groot rape, geskil en in klein blokkies gesny
  • groot handvol vars roket

Verhit jou oond tot 200 °C. Sny die varkribstuk se vel los met ’n skerp messie. Maak dun snye nét deur die vel. Plaas die uie in ’n oondroosterpan (in die middel, in die vorm en grootte van die vleis-stuk). Plaas die ribstuk bo-op en dan die vel. Geur met sout en swartpeper. Bak in die oond vir 2 ½ ure. Intussen maak jy die sous vir die rape: Plaas die knoffel in ’n oondbakkie en besprinkel met ’n bietjie olyfolie. Bak in die oond vir sowat 20 minute tot sag. Druk die knoffel uit die skilletjies. Meng die knoffel, ansjovis, kappertjiesaad, pietersielie, olyfolie en asyn in ’n bakkie. Geur met swartpeper. Hou eenkant. Kook die rape tot sag, sowat 15 minute voor die vleis gereed sal wees. Dreineer en voeg die roket by. Meng goed, en meng die sous deur. Haal die vleis uit die oond en sny die tjops van mekaar af. Kap die krakeling (crackling) in groot stukke. Skep die rape in die opdienbord met die tjops bo-op, en sprinkel die krakeling bo-oor.

* Resep uit Fergus Henderson, The Whole Beast – Nose tot Tail Eating, Bloomsbury, 2004

 

Om te drink
Kies vrugtig met Neethlingshof of Simonsig Gewürztraminer.