sk1007bredie5
Resepte

Gesonder beesstert met rooiwyn

(4 porsies)

porsiegrootte: sowat 200 g met been

  • 15 ml olyfolie
  • 750 g beesstert met min vet, in litte deurgesny
  • 350 g maer beesvleis, in 25 mm-blokkies gesny
  • 2 middelslag-wortels, in dik ringe gesny (200 g)
  • 1 middelslag-ui, fyngekap (100 g)
  • 5 – 10 ml gekapte knoffel, na smaak
  • 1 lourierblaar
  • 2 swartpeperkorrels
  • 2 naeltjies
  • 5 ml gemengde droë kruie
  • 1 beesstertaftrekselblokkie
  • 300 ml kookwater
  • 150 ml rooiwyn
  • 30 ml tamatiepuree
  • 25 ml koekmeelblom
  • koue water

Verhit olie in ‘n drukkoker en braai beesstert en daarna die beesvleisblokkies totdat die vleis verkleur. Jy sal nie al die stukke op een slag kan braai nie. Hou gebraaide vleis eenkant en plaas terug in drukkoker as al die vleis gebraai is. Voeg wortels, ui en knoffel by en roerbraai tot ui deurskynend is. Voeg lourierblaar, peperkorrels, naeltjies en gemengde kruie by vleismengsel. Los vleisaftreksel-blokkie in kookwater op en meng met rooiwyn en tamatiepuree. Giet rooiwynmengsel oor vleis en bring tot kookpunt. Plaas drukkoker se deksel op en sluit dig. Drukkook vleis vir 1¼ uur teen 100 kPa. Verwyder van hitte en laat afkoel totdat die druk in die kastrol normaal is voor jy die deksel afhaal. Die vleis moet sag wees en letterlik van die bene afval. Indien die vleis nog taai is, kan dit nog 15 minute teen 100 kPa drukkook, of laat prut oor lae hitte vir 1 uur. Vul die vloeistof aan soos nodig met kookwater vir ‘n souserige bredie. Meng
koekmeel en koue water tot ‘n gladde pasta en gooi in ‘n dun straaltjie by die gaar vleis terwyl jy roer. Voeg net genoeg van die pasta by sodat die sous effens verdik.

Vetinhoud:
Beesstert sorg vir ‘n baie geurige bredie, maar het baie vet, selfs al sny jy die sigbare stukke weg. Die vetinhoud van dié gereg is verlaag deur sowat 30% van die beesstert met maer beesvleis soos dystuk of binneboud te vervang. Die vetinhoud is met sowat 13 g vet per porsie verminder.

Geniet net nou en dan!
Sowat 55% van die vet in die gereg is selfs ná die aanpassing versadigde vet en kan bydra tot verhoogde bloedvette. Geniet beesstert liefs as geleentheidskos.

Verlaag:
Vervang die beesstert met volstruisnek en verlaag só die vetinhoud aansienlik. Sien die onderstaande tabel.