Foto deur Micky Hoyle
SARIE KOS DES 2012/JAN 2013

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS DES 2012/JAN 2013

Resepte

Gevulde koue filet–perfek in kleefplastiek

Oondbraaityd: 1½ uur

  • 250 g wit sampioene
  • 15 ml olyfolie
  • 3 knoffelhuisies, fyngekap
  • 200 g baba-spinasieblare
  • 200 g ricotta-kaas
  • 1 eier
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 1 filet van sowat 800 g (dis ’n halwe filet)
  • 30 ml olyfolie
  • sap van 1 suurlemoen
  • 200 g suikerertjies (sugarsnap peas)
  • mikrokruie

Kap sampioene baie fyn in voedselverwerker. Verhit 15 ml olie in pan. Voeg sampioene en knoffel by en braai tot al die vloeistof weg is. Laat afkoel. Plaas spinasie in groot bak en gooi kookwater oor. Laat staan tot spinasie pap is. Dreineer in vergiettes. Druk met jou hande al die vloeistof uit die spinasie. Kap baie fyn en voeg by sampioenmengsel. Voeg ricotta-kaas en eier by. Meng goed. Geur met sout en peper. Plaas filet op werkoppervlak. Sny die dun gedeelte af wat soos ’n stertjie lyk. Sny die filet in die lengte oop, maar moenie deursny nie – laat sowat 1½ cm oor. Vou oop en maak in elke oopgevoude stuk nog ’n lengtesnit sodat jy dit platter kan oopvou. Skep vulsel in en vou die filet toe. Bind vas met tou. Verhit die 30 ml olyfolie en braai filet mooi bruin. Verhit oond tot 100 °C. Laat filet afkoel en draai dit stewig toe in ’n hele paar lae kleefplastiek. Maak seker die entstukke is stewig vasgedruk. Plaas in oondbraaibak – daar hoef niks in die bak te wees – en sit in oond vir 1½ uur. Haal uit en laat eers afkoel in plastiek. Maak oop en laat heeltemal afkoel voor jy die vleis sny. Sit voor saam met suikerertjies en mikrokruie.