Foto's deur Donna Lewis

Resepte

Gnocchi met ham en ertjies

(4 – 6 porsies)

  • 4 (400 g) aartappels, geskil en gaar gekook
  • 1 eier
  • 280 g (500 ml) koekmeel
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 30 ml olyfolie
  • 30 ml botter
  • 300 g dik spek (kassler tjops), in blokkies gesny
  • 120 g ertjies, vars of bevrore
  • 120 g suikerertjies (mange tout), in die lengte gehalveer
  • handvol kruisement

Maak gnocchi volgens stap-vir-stap (sien onder).

1. Druk die gaar aartappels deur ‘n sif tot ‘n fyn puree. Voeg eier en meel by en meng tot ‘n hanteerbare deeg. Voeg nog meel by as dit nodig is sodat dit nie meer klewerig is nie. (Dit moet soos deeg lyk.) Geur goed met sout en peper. Laat rus vir 20 minute.

Stap 1

2. Deel deeg in vier en bestrooi ‘n oppervlak met ekstra meel. Gebruik jou vingerpunte en rol deeg in lang silinders van sowat 2 cm dik uit.

Stap 2

3. Sny met ‘n skerp mes in gnocchi-porsies van 2 cm elk. Gebruik ‘n vurk se punt om patrone op elkeen te druk.

Stap 3

 

Laat ‘n groot pot water kook en gooi gnocchi in die water. Sodra dit dryf, is dit gaar. Dreineer en hou eenkant. Verhit olie en botter in ‘n mediumgroot pan. Voeg spek by en braai vir 5 – 8 minute of tot goudbruin. Voeg albei soorte ertjies by en braai vir nog 2 minute. Voeg gaar gnocchi en kruisement by. Braai vir 3 – 5 minute of tot geurig. Geur goed met sout en swartpeper. Sit warm voor.

Wenk: As jy nie lus het om jou eie gnocchi te maak nie, kan jy dit by ‘n supermark koop.