FOTO Micky Hoyle 
SARIE KOS DES 2012/JAN 2013

FOTO Micky Hoyle SARIE KOS DES 2012/JAN 2013

Resepte

Kerrie-jaffel

Dis ʼn tradisionele gereg wat dikwels by markte of basaars verkoop word. As maaltyd is dit lekker met atjar, piesangs en tamatie-en-ui-sambal.

genoeg vir 6
Kooktyd van Kerriemaalvleis: 1 uur

• 30 ml olyfolie
• 500 g beesmaalvleis
• 1 ui, fyngekap
• 3 knoffelhuisies, fyngekap
• 10 ml borrie
• 10 ml fyn koljander
• 5 ml komyn
• 2 ml fyn kaneel
• 0,5 ml fyn gemmer
• 15 ml garam-masala
• 1 blik (400 g) gekapte tamaties
• 15 ml suurlemoensap
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 12 snye witbrood
• 50 ml sagte botter

Verhit olie in kastrol. Voeg maalvleis by en braai tot los en bruin. Voeg ui en knoffel by en braai tot ui sag is. Voeg borrie, koljander, komyn, kaneel, gemmer en masala by. Braai nog 5 minute. Voeg tamaties en suurlemoensap by. Geur met sout en peper. Laat prut sowat 1 uur. Die kerrie moenie souserig wees nie. Laat effe afkoel voor jy jaffels maak. Smeer brood aan een kant met sagte botter. Plaas een sny met gesmeerde kant na onder op ’n jaffelpan. Skep kerrie bo-op en maak toe met nog ’n sny brood, gesmeerde kant na bo. Maak pan toe en sny oortollige brood af. Plaas op warm plaat en braai sowat 5 minute. Draai om en braai verder. Maak versigtig oop en kyk of brood goudbruin en bros is. Indien nie, braai verder. Sit voor met tamatie-en-ui-sambal, piesangen- jogurt en gekoopte groente-atjar. bygeregte

Bygeregte

Tamatie-en-ui-sambal

• 400 g klein rosa-tamaties, in kwarte gesny
• ½ ui, baie fyngekap
• ¼ komkommer, in klein blokkies gesny
• hand vol vars koljander, gekap

Meng al die bestanddele saam.

Piesang-en-jogurt

• 4 piesangs, in skywe gesny
• sowat 80 ml griekse jogurt

Plaas piesangskywe in bak en skep jogurt bo-op.

  • Francois Schrödel

    Baie dankie!! My Russiese vriende het hierdie dis vir 4 dae geeet en steeds vir nog gevra!! Dis ‘n treffer!!