Micky Hoyle

Kos

Kort beesribbe gebraai in Pinotage

Vra die slagter om die ribbe so 6 x 6 x 6 cm te sny. Die ribbetjies moet so dik wees, want dit bly 2½ uur in die oond.
Genoeg vir 6 – 8

  • koekmeel
  • 2 kg kort beesribbe (short ribs)
  • 50 ml olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 6 x 6 cm-stukke seldery, in skywe gesny
  • 2 wortels, in klein blokkies gesny
  • 3 knoffelhuisies, fyngekap
  • 2 vars tiemietakkies
  • 2 lourierblare
  • 1 bottel (750 ml) Pinotage
  • 125 ml tamatiepuree
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit oond tot 180 °C. Gooi koekmeel in mengbak en rol ribbe in meel. Maak seker dis goed bedek. Skud oortollige meel af. Verhit olyfolie in kastrol. Braai ribbe – nie alles op een slag – tot bruin. Hou eenkant. Gooi ui, seldery, wortels en knoffel in dieselfde kastrol. Braai sowat 10 minute. Plaas vleis terug in die kastrol en voeg tiemie, lourierblare, wyn en tamatiepuree by. Geur met sout en peper. Maak kastrol toe met deksel en plaas in oond. Oondbraai 2½ uur tot vleis sag is en van die been wil afval. Sit voor met aartappelskyfies.