Foto deur Micky hoyle SARIE KOS DES 2012/JAN 2013

Resepte

Lamsteaks gerooster in rooiwyn

(Genoeg vir 4)
Oondbraaityd: 1½ uur

  • 60 ml olyfolie
  • 4 lamsteaks
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 1 ui, gehalveer en in skywe gesny
  • 2 Mediterreense aartappels, in skywe gesny (hou die skil aan)
  • 200 ml rooiwyn
  • 2 takkies roosmaryn
  • 8 klein pitabroodjies
  • 240 g hoemoes (hummus)
  • olyfolie
  • vars bronkors (watercress)

Verhit oond tot 180 °C. Verhit 15 ml van olyfolie in pan. Braai lamsteaks weerskante tot bruin. Geur met sout en peper. Gooi helfte van oorblywende olyfolie in oondbraaibak. Pak steaks in. Plaas ui en aartappels bo-op en sprinkel res van olyfolie oor. Geur met nog sout en peper. Oondbraai oop vir sowat 30 minute tot aartappels en ui effe bruin is. Gooi rooiwyn oor en plaas roosmaryn bo-op. Plaas oop terug in oond en oondbraai nog 1 uur. Verhit pitabroodjies. Skep hoemoes uit in ’n bakkie en gooi klein bietjie olyfolie oor. Sit voor saam met steaks en vars bronkors.

WENK
As jy nie lamsteaks in die hande kan kry nie, vervang dit met lamstjoppies.