6 uur tuis, eet half 7

Lamstjops met botterboon-mash

25 minute – 4 porsies

  • 8 lamstjops
  • sap van 1 suurlemoen
  • 50 ml Worcestersous
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 250 ml rooiwyn
  • 50 ml water
  • 15 ml Bisto
  • 2 blikke (400 g elk) botterbone, gedreineer
  • 1 knoffelhuisie, fyngekap
  • 60 ml olyfolie
  • 4 sprietuie, gekap

Plaas die tjops in ’n bak en gooi die suurlemoensap en Worcestersous oor. Geur met sout en swartpeper. Verhit ’n swaarboompan en braai die tjops weerskante tot hoe gaar jy dit verkies. Gooi die suurlemoen-en-Worcestersous en rooiwyn oor die tjops en braai verder tot die wyn afgekook het. Meng die water met die Bisto en voeg by die sous om dit te verdik. Hou eenkant warm terwyl jy die bone-mash maak: Gooi water in ’n kastrol en bring tot kookpunt. Voeg die bone by en kook vir so 5 minute. Dreineer. Druk fyn en voeg die knoffel en olyfolie by. Geur met sout en swartpeper. Sit die tjops met sous voor bo-op die bone-mash. Sprinkel die gekapte sprietuie oor.