Resepte

Ma Soekie se gerookte tamatiebredie

4 – 6  porsies

  • 50 ml olie
  • 1 kg skaapvleis, op die been
  • 2 groot uie
  • 1 blik (410 g) gekapte tamaties
  • 4 naeltjies
  • 2 groot stukke kassia (of 5 ml fyn kaneel)
  • 2 salieblare
  • 2 ml tiemie
  • 1 groot groen brandrissie
  • 15 ml suiker
  • 2,5 ml sout
  • 3 ml fyn swartpeper
  • 4 mediumgroot tamaties, gerook*
  • 15 ml bruin sjerrie
  • 1 knoffelhuisie, in skyfies gesny
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Verhit olie in ’n groot kastrol en braai vleis tot bruin. Verwyder vleis van kastrol en braai uie tot bruin. Voeg geblikte tamaties, naeltjies, kassia, salie, tiemie en heel brandrissie by. Verlaag hitte en maak toe met ’n deksel. Laat prut vir 1 uur. Voeg suiker, sout, swartpeper en gerookte tamaties met hul sap by. Bedek en prut vir nog ’n uur (voeg water by indien nodig). Voeg sjerrie en knoffel by, geur met sout en swartpeper en prut vir nog 30 minute. Jy kan die deksel verwyder as daar nog baie vloeistof is. Die sous moet dik wees, met ’n soet kaneelgeur. Sit voor saam met ’n ring soet kardemom-gegeurde geelrys.

 *Rook die tamaties in ’n klein roker met eike- of appelhout-splinters.

Om te drink
Le Bonheur Prima, ’n cabernet sauvignon/merlot-versnit