FOTO Donna Lewis

FOTO Donna Lewis

6 uur tuis, eet half 7

Maalvleis-koftas op koeskoes

(1 – 2 porsies)
25 minute

• 400 g maalvleis
• 20 ml fyn koljander
• 10 ml fyn komyn
• 1 gekapte brandrissie
• 1 hand vol vars koljander, gekap
• 1 eier
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 6 sosatie-stokkies
• 60 ml olyfolie
• 80 g koeskoes
• 125 ml warm hoenderaftreksel
• 45 ml botter

Verhit oond tot 180 °C. Meng maalvleis, koljander, komyn, brandrissie en eier. Geur met sout en swartpeper. Gebruik jou hande en vorm lepelsvol van die maalvleis om die sosatiestokke se punte. Druk stewig vas. Verhit olyfolie in braaipan. Braai maalvleiskebabs vir sowat 5 minute per kant of tot goudbruin. Plaas op bakplaat en bak verder in warm oond tot gaar – sowat 10 minute. Terwyl koftas bak, plaas jy die koeskoes in ’n skoon glasbak en gooi die warm aftreksel oor. Draai bak toe met kleefplastiek en laat vir 5 minute staan. Vlok los met ’n vurk en roer botter deur tot gesmelt. Geur met sout en swartpeper. Sit warm voor saam met koftas en bietjie suurroom.