Foto's deur Lee Malan

Foto's deur Lee Malan

Resepte

Marokkaans-gegeurde frikkadelle by roomsagte risotto

(6 – 8 porsies)

  • 15 ml botter
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, gekap
  • 30 ml kerriepoeier
  • 10 ml fyn koljander
  • 500 g maer beesmaalvleis
  • hand vol gekapte vars koljander
  • 1 eier
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 15 ml olyfolie risotto
  • 45 ml olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, gekap
  • 250 ml arborio-rys
  • 100 ml witwyn
  • 500 ml hoenderaftreksel
  • 125 ml laevet-room
  • 50 g parmesaankaas, gerasper

Verhit botter in ’n pan tot warm. Voeg ui en knoffel by en braai liggies vir 5 minute of tot begin verkleur. Voeg speserye by en braai nog 5 minute. Voeg gebraaide uie by die rou maalvleis. Voeg vars koljander en eier by. Meng goed. Geur met sout en swartpeper. Vorm klein frikkadelle. Verhit olie tot warm in ’n middelslagpan en braai frikkadelle tot goudbruin en gaar, sowat 8 – 10 minute. Hou eenkant.

Risotto
Verhit olyfolie tot warm in ’n middelslag-pot. Voeg ui en knoffel by en braai vir 3 minute. Voeg rys by en braai nog 2 minute. Voeg wyn by en laat wegkook. Gooi al die aftreksel by. Bring tot kookpunt en verlaag hitte tot rys stadig prut. Roer die mengsel heeltyd met ’n houtlepel om stysel in rys los te maak. Hou so aan tot rys gaar en romerig is, sowat 20 – 25 minute. Voeg room by en laat nog 3 minute prut. Verwyder van hitte en voeg kaas by. Roer tot gladde mengsel. Geur goed met sout en swartpeper. Skep
frikkadelle by en sit voor.