Vleis

Mini-kaasburgers met groente-tjips

Vier die einde van die week met hierdie spesiale happies en vars vrugte.

genoeg vir 6

• 500 g maalvleis
• 1 ui, fyngerasper
• 60 ml tamatiesous
• 2,5 ml sout
• varsgemaalde swartpeper
• 30 ml olyfolie
• 12 klein winkelbroodrolletjies
• 12 kropslaaiblare (iceberg)
• 4 tamaties, in skywe gesny
• 12 skyfies cheddarkaas
• 200 ml mayonnaise

Plaas maalvleis, ui, tamatiesous, sout en peper in ’n mengbak. Meng alles goed saam. Verdeel maalvleis in 12 ewe groot patties. Verhit olie in ’n kleefvrye pan. Braai patties sowat 3 minute aan albei kante. Hou eenkant. Sny broodrolletjies oop. Plaas blare, tamatie, pattie, kaas en ’n skeppie mayonnaise op elke rolletjie en maak toe. Pak in saam met groente-tjips (resep volg) en vars vrugte.

 

Mini-kaasburgers met groente-tjips

Mini-kaasburgers met groente-tjips
FOTO Micky Hoyle

GEBAKTE GROENTE-TJIPS

• 1 botterskorsie (butternut)
• 2 patats
• 4 wortels
• 4 bete
• 60 ml olyfolie
• sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit oond tot 200 °C. Voer 2 groot bakplate uit met bakpapier.

1. Sny groente so dun moontlik met mandolien (sien toestel op foto 2) of skerp mes. Werk versigtig, sodat jy nie jouself raak sny nie. Plaas groente behalwe beet in ’n groot mengbak en gooi 50 ml olie, sout en peper oor. Meng goed deur sodat groente met olie bedek is. Plaas beet in ’n aparte bak en gooi orige 10 ml olie, sout en peper oor. Meng goed deur.

2. Pak groente op bakplaat met gaatjies.

3. Bak sowat 40 minute tot droog en bros. Geur met sout en peper.