Kosstories

Nico se boereworsresep

  • 2,5 kg kruisskyf (rumpsteak) of binneboudvleis (topside), sny senings uit, maar los matige hoeveelheid vet
  • 1,5 kg varkskouer, sonder been, vel en vet
  • 1 kg vark-rugspek
  • 70 g sout
  • 5 g (± 7 ml) fyn swartpeper
  • 10 g fyn of growwe koljander
  • 2,5 g fyn neut
  • 2 g fyn naeltjies
  • 150 ml bruin druiweasyn
  • 50 ml water
  • skaapderm, of varkderm vir ’n dikker wors, baie goed uitgespoel en in vars water geweek

Gebruik die beste, varsste speserye. Die speserye wat jy 12 jaar gelede in ’n rakkie as trougeskenk gekry het, is nie goed genoeg nie. (Hopelik in teenstelling met jou eggenoot.) Indien jy heel koljander gebruik, kan jy dit effens in ’n pan skroei en dan grof maal. Meng al die speserye en sout saam – dit is uiters belangrik dat veral die naeltjies goed versprei is.

Sny die vleis in stukke wat in jou grootte vleismeul pas. Die vleis moet koud wees, wissel tussen 2 en 4 °C. Meng die vleis baie goed met die speserye, voeg die asyn en water by en meng baie goed.

Maal die vleis en versprei die vleis en vet tydens die maalproses sodat daar nie te veel met die gemaalde vleis gewerk moet word nie. Meng al die vloeistof en speserye wat agtergebly het in die bak waarin die vleis gemeng is by maalvleis. Meng maalvleis totdat die vet/vleisverspreiding eweredig is.

Maak ’n bietjie van die maalvleis gaar en laat almal in die kombuis daaraan proe. Sout en koljander kan nog bygevoeg en deurgemeng word, maar beslis nie naeltjies nie.

Stop die derms, nie te styf nie, maar daar moenie lugblasies in die wors wees nie. Laat hang die wors op ’n koel plek vir 3 uur en verpak dit dan. Verwyder soveel moontlik lug uit die verpakking. Vars wors kan tot ’n week lank in die yskas gehou word. Vries die res, maar liefs nie langer as
twee maande nie.

Skaapderm is baie sagter as varkderm en is dus heerlik vir pangebraaide wors. Varkderm is taaier en werk goed vir braaiwors op die kole.

  • Wynand

    hello uit China

    Ek het sopas n worstopper en vark derms gekry en naaltjies, ek sukkel om koljander saad te kry en van kleins af gebruik ons dit, ek will weet kan ek vars koljander (blaar en stem) kan gebruik en of dit wors sal versuur asgevolg om dat ek n vars krui gebriuik?
    Dankie

    Groetnis uit China

  • Morne

    Kyk op taobao.com, daar is beslis koljander saad ek vandag weer bestel.

  • Etienne Vorster

    Hello hier uit Albany, Wes-Australië, ek soek na ‘n BAI lekker sosatiewors resep asseblief. Kan iemand my help? By voorbaat dank.