Oornag-lamsnek in Yorkshirepoeding

Oornag-lamsnek in Yorkshirepoeding FOTO Micky Hoyle

Vleis

Oornag-lamsnek in Engelse yorkshirepoeding

Die gereg word oornag in die oond gelos en die volgende oggend is dit murgsag. Sit dit voor met yorkshirepoeding pleks van aartappels – die vleis word geskep in die holtes wat die individuele poedings vorm.

• sowat 120 ml olyfolie
• 16 stukke lamsnek
• sap van 1 suurlemoen
• 80 ml worcestersous
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 2 lourierblare
• 750 ml beesaftreksel

YORKSHIREPOEDING
• 140 g (250 ml) koekmeel
• 4 groot eiers (large)
• 200 ml melk
• 90 ml kanola-olie

Verhit oond se rooster-element. Sprinkel helfte van olyfolie in ’n groot oondbraaibak. Pak lamsnek in een laag in bak. Sprinkel res van olyfolie oor. Plaas in oond en rooster tot bruin. Draai vleisstukke om en rooster ander kant tot bruin. Haal uit oond en verstel hitte tot 125 °C. Sprinkel suurlemoensap en worcestersous oor. Voeg knoffel by en geur met sout en peper. Voeg lourierblare en 500 ml van die aftreksel by. Maak bak dig toe met foelie. Plaas in oond – oornag of vir 8 uur. Haal uit, verwyder vleis van bene en vlok in kleiner stukke.

Plaas oondbraaibak met al die sous wat oorgebly het op die stoofplaat. Verhit en voeg res van aftreksel by. Roer bak se bodem goed met ’n houtlepel om al die stukkies vleis wat vassit los te maak. Laat kook oop tot sous effens verdik het. Voeg fyn vleis by en meng goed deur.

Yorkshirepoeding Sif meel in mengbak van elektriese menger. Voeg eiers een vir een by en klits goed ná elke byvoeging. Voeg melk by en klits goed tot alle klonte opgelos het. Maak mengbak toe met afdroogdoek en laat staan 1 uur. Gooi beslag in ’n beker. Verhit oond tot 230 °C. Verdeel olie tussen 6 holtes van ’n groot muffinpan. Plaas muffinpan versigtig in warm oond. Verhit olie 15 minute. Haal uit oond. Verdeel beslag versigtig tussen holtes met warm olie en plaas dadelik terug in oond. Bak 25 – 30 minute tot goudbruin en bros. Haal uit en laat staan sowat 5 minute. Haal versigtig uit holtes van muffinpan en plaas op opdienbord. Skep vleis in individuele yorkshirepoedings en sit dadelik voor.