upington_065
Resepte

Pekeltong met appelkoos-sous

(6 porsies)

  • 1 gepekelde beestong
  • 2 uie, in skywe gesny
  • 2 geelwortels, in ringe gesny
  •  8 swartpeperkorrels

Vars die tong 3 uur lank uit in ’n kastrol met koue water. Gooi water af en bedek tong met skoon water. Voeg uie, wortels en peperkorrels by. Kook stadig tot sag. Trek vel af terwyl die tong nog warm is. Laat in eie vloeistof koud word. Appelkoos-sous

  • 500 g gedroogde appelkose
  • 1 groot ui, in ringe gesny
  • 50 ml botter
  • 750 ml beesvleis-aftreksel
  • 200 g rosyne
  • 200 g (250 ml) bruinsuiker
  • 125 ml witasyn
  • 20 ml mosterdpoeier
  • 2 ml sout
  • 50 ml mielieblom
  • 80 ml water
  • 100 ml room

Stowe appelkose tot sag. Braai uieringe net ’n paar oomblikke in botter, draai temperatuur af en laat staan met ’n deksel op oor lae temperatuur tot deurskynend. Verhit aftreksel en voeg appelkose, uieringe, rosyne, suiker, asyn, mosterdpoeier en sout by. Kook vir 10 minute. Meng mielieblom met water tot ’n pasta. Roer by die sous en kook tot gaar. Meng room deur. Sny tong in skyfies en giet sous oor. Om te drink Oranjerivier Wynkelders Colombard