FOTO Donna Lewis

FOTO Donna Lewis

Resepte

Perfekte patties

8 – 10 patties

• 10 ml komynsaad
• 30 ml koljander
• 6 snye witbrood
• 500 g maalvleis
• 250 g spek, fyngekap
• 1 rooi ui, fyngekap
• 30 ml korrelmosterd
• 1 hand vol vars koljander, fyngekap
• 2 eiers
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 60 ml olyfolie

Verhit braaipan oor medium hitte. Voeg speserye by en rooster stadig – sowat 2 minute. Plaas brood in voedselverwerker en verwerk tot fyn broodkrummels. Meng maalvleis, spek, uie, mosterd en koljander saam. Voeg speserye, broodkrummels en eiers by. Meng goed. Geur met sout en swartpeper en meng weer goed. Braai ’n klein bietjie van die mengsel in ’n warm pan tot gaar om te toets of dit goed genoeg gegeur is. Proe en pas die mengsel aan na smaak. Rol sowat 60 cm kleefplastiek uit op die werkoppervlak. Skep vleismengsel in die middel van die plastiek en vou dit toe. Gebruik die buitenste punte van die plastiek as handvatsel en rol die hele mengsel oor die werkoppervlak terwyl jy die plastiek stewig vashou. Só pers jy die vleis saam in ’n groot wors. Knoop die plastiek stewig vas. Plaasvleis in die vrieskas vir sowat 3 ure of tot effens bevrore, maar nie hard nie. Gebruik ’n skerp riffelrandmes om die wors in skywe van sowat 2 cm dik te sny. Verhit olyfolie in ’n mediumgroot braaipan. Verwyder die kleefplastiek van die vleisskywe en plaas die patties in ’n warm pan. Braai vir sowat 3 – 5 minute per kant of tot gaar.