Foto deur Micky Hoyle

SARIE KOS FEB/MAART 2013

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS FEB/MAART 2013

Resepte

Ragu–fyngekookte beesvleis

ʼn Italiaans gereg waar ʼn groot snit vleis fyngekook en gewoonlik saam met pasta voorgesit word. Dis ewe lekker met Italiaanse brood of net ʼn slaai.
(genoeg vir 4 – 6)

  •  1,3 kg binneboudstuk (silverside)
  • 30 ml olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 3 knoffelhuisies, fyngekap
  • 1 x 400 g-blik kersietamaties
  • 250 ml rooiwyn
  • 250 ml beesaftreksel
  • 1 x 70 g-blik tamatiepasta
  • 3 lourierblare
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • hand vol vars basiliekruidblare
  • 1 ciabatta-brood

Verhit oond tot 170 °C. Sny vleis in stukke van sowat 8 cm – taamlik groot. Verhit olyfolie in diep oondkastrol op stoofplaat. Braai vleisstukke – nie alles op een slag – tot effe bruin. Haal uit kastrol en hou eenkant. Verlaag hitte en gooi ui en knoffel in dieselfde kastrol. Braai tot sag en deurskynend. Voeg tamaties, rooiwyn, aftreksel en tamatiepasta by. Plaas vleisstukke terug in kastrol en voeg lourierblare by. Geur met sout en peper. Maak toe met deksel en oondbraai 2½ uur. Jy mag elke nou en dan loer om seker te maak die vloeistof kook nie weg nie. As dit wel gebeur, kan jy ’n klein bietjie kookwater byvoeg. Wanneer die 2½ uur verby is, toets jy die vleis met ’n vurk om seker te maak dis baie sag. Verwyder net die vleis uit die kastrol en vlok uitmekaar met vurk. Plaas gevlokte vleis terug in kastrol en meng sous deur. Sprinkel vars basiliekruidblare oor en sit voor saam met ’n ciabatta-brood.

Vleissnit gebruik – silverside – die dy-gedeelte. Die snit word ook gebruik om soutvleis te maak.