Resepte

SA SE Wen-tamatiebredie: Freddie Heyns

Ek hou baie van onthaal en kosmaak. ’n Paar jaar gelede het ek besluit om al ons familieresepte in ’n boek saam te stel. Ná my ma se dood het haar resepte verlore geraak en haar tamatiebredie was een daarvan. Ek hou glad nie van ribbetjies nie, want daar is vet aan, maar ek eet wel lamsboud. In ons vriendekring hou ons graag nie-amptelike “koswedstryde”. Een keer het ons lasagne gemaak – drie familielede en my vriendin. Myne was ’n bietjie vaal en my vriendin het gewen. Toe ek in SARIE KOS van April/Mei van die wedstryd lees, het ek my vriendin, die lasagne-wenner, gebel sodat ons resepte kon toets en proe wie se resep die smaaklikste is. Haar tamatiebredie was al weer baie lekker. My tamatiebredie maak ek soms met hoenderdye en ander kere met heel lamskenkels. Ek en my suster, Estelle, het ook teen mekaar gekook om te bepaal wie se tamatiebredie die lekkerste is. Haar resep is soos ons ma dit gemaak het, maar ek is seker sy sou van my weergawe ook gehou het. Toe Barbara Joubert my bel en sê dat ek die wedstryd gewen het, het ek gedink sy maak ’n grap. Ek het my vriendin gebel en haar meegedeel dat ek haar dié keer geklop het. Nog nooit het ek daaraan gedink om vir ’n tydskrif-wedstryd in te skryf nie. Dit was wonderlike nuus!”

Wen-tamatiebredie
(4 PORSIES)

  • 60 ml kookwater
  • halwe skaapaftrekselblokkie
  • 60 ml sultanas
  • 2,5 ml vinkelsaad
  • 1,25 ml matige kerriepoeier
  • 1,25 ml garam masala
  • 1 lourierblaar
  • 2,5 ml seesout
  • 1,25 ml varsgemaalde swartpeper
  • 4 x 10 cm-selderystingels, in stukke gesny (verwyder blare en die wit gedeelte)
  • 150 ml wortels, in ringe gesny
  • 125 g braaispek (rashers), in 1 cmblokkies gesny
  • 15 ml sonneblomolie
  • 500 g kort-gesnyde lamskenkels
  • 250 g ontbeende lamsboud in 2 cmstukke gesny
  • 1,25 ml gedroogde rissievlokkies
  • 2 medium-groot uie, in groterige stukke gesny
  • 1 rooi soetrissie, in blokkies gesny
  • 1 klein knoffelhuisie, geskil en fyngerasper
  • 400 g goed-ryp tamaties, skil verwyder en in blokkies gesny
  • 250 ml passata (tamatiepuree)
  • 60 ml droë witwyn
  • 10 ml suiker
  • 1,5 cm vars gemmer, geskil en fyngerasper
  • 15 ml vars tiemieblare
  • 60 ml sterk blatjang
  • 15 ml vars koljander, gekap

Voorverhit die oond tot 160 ºC. Los skaapaftrekselblokkie in kookwater op. Voeg sultanas by en hou
eenkant. Rooster vinkelsaad in ’n pan en maak fyn in vysel en stamper. Voeg kerriepoeier, garam masala, lourierblaar, sout en peper by en hou eenkant. Plaas seldery en wortels in voedselverwerker en verwerk tot grofgekap. Verhit groot pot oor medium hitte en braai spek. Roer af en toe totdat spek goudbruin is en al die vet uitgebraai is. Verwyder spekstukke en gooi spekvet in ’n maatbeker; behou sowat 30 ml in pot. Verbruin skaapskenkels oor medium hitte in twee eetlepels spekvet, sowat 3 – 4 minute per sy. Moenie pan te vol maak nie, anders stoom die vleissappe uit die vleis uit. Verwyder uit pan en hou eenkant. Braai res van vleis op dieselfde manier en voeg spekvet by as die pot te droog word. Indien spekvet nie genoeg is nie, vul aan met sonneblomolie. Braai rissievlokkies vir 30 sekondes. Voeg gekapte wortels en seldery, uie, soetrissie en knoffel by en soteer tot deursigtig, sowat 6 – 10 minute lank. Roer af en toe sodat mengsel nie vasbrand nie. Voeg tamaties, passata, wyn, suiker, gemmer, tiemie, speserymengsel en sultanas en aftreksel by. Verlaag hitte tot medium en prut vir sowat 8 minute. Plaas die vleis terug in die sous en meng. Verhit dit tot kookpunt, bedek en plaas in voorverhitte oond. Bak vir 1½ uur. Haal pot uit oond en voeg blatjang en koljander by. Roer deur en proe vir geur, voeg meer sout by indien nodig. Plaas bedekte pot terug in oond en bak 30 minute tot vleis sag is. Verwyder deksel en bak onbedek vir 30 minute.