Foto deur Donna Lewis SARIE KOS FEB/MRT 2014

Resepte

Sampioen-gnocchi

Dis ’n soort van kluitjie wat van fyn aartappel gemaak word – sponssag en vol smaak saam met die sampioene.
Genoeg vir 6

• 4 aartappels, geskil
• 45 ml botter
• 5 ml heel komyn
• 160 ml glutenvrye koekmeel
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 45 ml olyfolie
• 500 g gemengde sampioene
• 1 ui, in skywe gesny
• 2 knoffelhuisies, gekap
• 2 takkies tiemie
• 250 ml sampioenaftreksel
• 250 ml room
• 100 g parmesaankaas, fyngerasper

Kook aartappels tot sag en gaar. Druk baie fyn met aartappeldrukker en voeg botter en komyn by terwyl aartappels nog warm is. Meng deur en voeg genoeg meel by om sagte, hanteerbare deeg te vorm. Geur goed met sout en peper. Verdeel deeg in balle en rol elkeen uit in ’n lang wors van sowat 1 cm in deursnee. Sny elke wors in porsies van 2 cm. Hou eenkant. Verhit olyfolie tot warm in groot braaipan. Voeg sampioene, ui, knoffel en tiemie by. Braai 8 – 10 minute of tot sampioene goudbruin is. Voeg aftreksel by en verlaag hitte. Laat stadig stowe tot 2/3 van aftreksel weggekook het. Voeg room by en laat verder kook tot dik romerige sous vorm. Geur goed met sout en peper. Bring ’n pot met water tot kookpunt en gooi aartappelporsies in kookwater. Laat kook tot dit op die oppervlak van die water dryf. Dreineer en voeg by warm sampioenmengsel. Meng versigtig deur en sit voor met parmesaankaas.