Resepte

Spek-en-ertjie-risotto

(4 – 6 porsies)

  • 15 ml botter
  • 15 ml olyfolie
  • 250 g repiespek (streaky bacon) in klein blokkies gesny
  • 1 ui, fyngekap
  • 1 knoffelhuisie, fyngekap
  • 500 g (625 ml) arborio-rys
  • 125 ml witwyn
  • sowat 2 liter hoenderaftreksel
  • 125 g baba-sampioene
  • 200 g vars of bevrore ertjies
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 100 g parmesaankaas, gerasper

Verhit die botter en olyfolie saam in ’n kastrol. Braai die spek vir sowat 5 minute. Voeg die ui en knoffel by en braai tot sag en deurskynend. Voeg die rys by en braai vir omtrent 2 minute. Roer aanhoudend. Die witwyn kom nou by en moet feitlik wegkook terwyl jy roer. Voeg die aftreksel soplepel vir soplepel by – hou aan roer. Ná elke byvoeging moet die aftreksel amper heeltemal wegkook. Sowat 15 minute ná jy die aftreksel begin byvoeg het, kom die sampioene en ertjies by. Hou aan om bietjies-bietjies aftreksel by te voeg terwyl jy aanhoudend roer. Geur met sout en peper, en gooi dan omtrent die helfte van die parmesaankaas by. Die res bedien jy afsonderlik vir diegene wat ekstra kaas wil hê.

Om te drink

Die effe soet geure van die spek en ertjies sal goed pas by ‘n geurige wyn soos ‘n gewürztraminer. Ek is lief vir Neethlingshof Gewürztraminer. Die aromatiese geure in dié wyn sal die beste in hierdie risotto na vore bring.