Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS JUN/JUL 2014

Resepte

Spek-pruime-en-varkfilet-kebabs

Gedroogde pruime wat in spek toegedraai is, word baiekeer as happie voorgesit. Ek voeg varkfilet by en maak ń sappige kebab.

Genoeg vir 6
• 6 hout-kebabstokkies
• 750 g varkfilet
• 60 ml olyfolie
• sap van 2 suurlemoene
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 250 g strepiespek
• 24 gedroogde, ontpitte pruime
• olyfolie
• mikrokruie vir garnering

Week kebabstokkies oornag in koue water. Verhit oond tot 200 °C. Sny varkfilet in 24 blokke. Plaas in ’n bak en gooi olyfolie, suurlemoensap en fyngekapte knoffel oor. Meng goed deur en maak bak toe met kleefplastiek. Plaas in yskas en laat marineer sowat 30 minute. Haal bak uit yskas en geur die vleis met sout en peper. Sny elke reep spek in die helfte. Draai ’n stuk spek om elke pruim. Ryg 4 stukkies varkvleis en 4 toegedraaide pruime om die beurt aan elke geweekte stokkie. Sprinkel ’n bietjie olyfolie op ’n bakplaat. Sprinkel nog ’n klein bietjie olyfolie oor die kebabs. Plaas kebabs op bakplaat en oondbraai sowat 20 – 25 minute in warm oond tot gaar. Haal uit en plaas kebabs op opdienbord. Sprinkel mikrokruie oor en sit warm voor.