Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS Augustus/September 2014

Resepte

Springbok-bourguignon

Gewoonlik word hierdie stowebredie met beesvleis gemaak. Ek het dit vervang met springbok en dis heerlik, vir my selfs lekkerder as die Franse weergawe.

Genoeg vir 6
• 1,9 kg ontbeende springbokboud of -blad
• 1 x 750 ml-bottel rooiwyn
• 5 takkies vars tiemie
• 4 lourierblare
• sowat 60 ml olyfolie
• 250 g strepiespek, in blokkies gesny
• 3 knoffelhuisies, fyngekap
• 13 salotte of piekeluitjies, geskil
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 250 ml kookwater
• 300 g klein sampioene

Sny vleis in blokke van sowat 3 cm. Plaas in ’n groot plat bak en gooi hele bottel wyn oor. Voeg tiemie en lourierblare by en maak bak toe met kleefplastiek. Laat marineer oornag in yskas. Verhit oond tot 180 °C. Haal vleis uit yskas en laat staan tot dit kamertemperatuur bereik. Haal vleis uit wyn en maak droog met kombuispapier. Behou wyn. Verhit olie in ’n groot kastrol. Braai vleis bietjies-bietjies tot bruin en hou eenkant in ’n bak. Braai spek en knoffel in dieselfde kastrol tot spek bros is. Plaas vleis en al die sappe wat uitgeloop het terug in die kastrol. Voeg salotte by en geur met sout en peper. Gooi die wyn met al die kruie daarin terug in die kastrol. Voeg kookwater by en maak kastrol toe met deksel. Plaas in oond en oondbak 2 uur. Haal uit oond en voeg sampioene by. Maak kastrol toe met deksel. Plaas terug in oond en oondbak nog 1 uur tot vleis sag is. Sit voor met groenbone.