Foto's deur Micky Hoyle

Resepte

Steak met chardonnay-mosterdsous

(2 PORSIES)
Sous

  • 60 ml botter
  • 60 ml koekmeel
  • 200 ml warm melk
  • 200 ml chardonnay
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 25 ml Dijon-mosterd

Smelt botter in ’n klein kastrol. Voeg meel by en roer tot dit ’n gladde pasta vorm. Voeg die warm melk bietjies-bietjies by en roer goed sodat geen klonte vorm nie. Voeg die chardonnay ook bietjiesbietjies by. Roer goed. Hou aan roer tot sous verdik en geur met sout, peper en mosterd. Sit warm voor saam met steak.

Steak

  • 15 ml olyfolie
  • sap van halwe suurlemoen
  • 2 rib-oogskywe (rib eye steaks), sowat 200 g elk
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Gooi olyfolie en suurlemoensap oor steaks. Geur met sout en peper. Maak ’n riffelpan baie warm. Braai steak so 3 minute aan elke kant – die steak sal nog lekker pienk in die middel wees. Jy kan natuurlik jou steak braai tot hoe gaar jy dit wil hê. Laat rus so 5 minute voor jy dit met sous voorsit.

Om te drink
Bouchard Finlayson se Limited Edition Kaaimansgat Chardonnay 2010 met klassieke vanielje-ondertone.